top of page

“KOMPATERTJIE” EN ‘N STYWE DOP

Uitmelkbos


‘n Ruk gelede was die Vermeulens en die Van Deventers saam in die VanD-motor.  ‘n Versamelde lewenservaring van oor die 310 jaar. Amper ‘n jaar per kilogram! Die grootste bydrae (in jare) is gelewer deur oud-politikus Toy Vermeulen, spesiale vriend en buurman saam met wie ek oor vele jare vele sakke sout verslind (en ook ‘n hele paar bottels van die beste KWV geledig het).

 Toy was op Vrydag 9 Januarie 90. Daardie mylpaal is min beskore. Dit moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat Toy in Bloemfontein so ‘n uitnemende buurman was wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie nie.

 Hy is op vele terreine ‘n man van stoffasie.  In die dekades 70’s en 80’s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator.  Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

 In hoeveel rade en komitees hy in sy 90 jaar gedien het – kerk, skole, kultuur, plaaslike bestuur en wat nog – kan ek nie raai nie.  Waar sy foto’s oral hang, sal hy dalk self nie weet nie.  Een onverwagse plek vir my was die klubhuis van die Koeberg-rolbalklub op Melkbos.  Daarvan was ‘n jonger, fikser en ratser Toy op sy dag president.

 Sy versameldrif – die woordeboek praat ook van versamelwoede – ken geen weerga  nie.    Elkeen wat al ‘n voet in Toy se studeerkamer gesit – in Bloemfontein, Blouberg en selfs nou nog in sy herfsjare in die gholflandgoed AtlanticBeach op Melkbos – kan dadelik sien: Soos bye heuning vergaar, vergaar die man dinge van waarde.

 Sy studeerkamer is ‘n kulturele skatkamer. Hierdie bibliofiel se boekrakke kreun onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana.  Sy unieke seëlversameling was op sy dag legendaries.  Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis.  Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout is vir Toy onweerstaanbaar. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog ver van volledig.

 Ek het oorweeg om Toy ‘n “koorsagtige” versamelaar te noem. Dit sou nie deug nie.  “Koorsagtig” beskryf nie die stiptelikheid waarmee hy sy goeters orden nie.   Hy weet waar om elke ding raak te vat.

 Die heer J.A.J. Vermeulen (Toy se formele gedaante) versamel egter nie net objekte nie. Hy teken sy eie gedagtes in sy netjiese handskrif op. Hy versamel koerantknipsels . Hy versamel vriende soos Jacques Kallis lopies geakkumuleer het.  In Bloemfontein is gespot die ruimhartige Toy ry altyd met ‘n kis goeie rooi in sy kattebak. Waar hy ‘n vriend teëkom, delf hy gou ‘n geskenkie uit. Dat gee vir hom ‘n lekkerte is, is nou nog duidelik.  Jy stap nie uit sy huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie.

 Kenmerkend van Toy is dat hy nie hier vat en daar los nie.  As hy sy lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hy en die sprankelende Joha in Europa gaan tiekiedraai het, het hy van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly.   Al kan hy nie meer tiekiedraai nie (Joha sou wel kon!), klop sy hart steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

 Hierdie “kompatertjie” buig graag hier vir dié 90-jarige kameraad sy  “stywe dop” – met ‘n “stywe dop” Boplaas op die koop toe!

(FOTO: Toy en Joha in September 2013 by die Kangogrotte kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is na ‘n operasie.) .

6 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page