Konfrontasie!
Een van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.
Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word. Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie. Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.
Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019. Die preek van die leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor. Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het nie. Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.
Die sprong.
Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt. Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.
Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor. Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit dit naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeeld van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.
Nou moet ons aanstoot. Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan. Ek volg sy voorbeeld en bring die Honda ook vinnig tot stilstand. “Leeu!” Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.
Nommer twee.
Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad. Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap. Jy sou aan hom kon vat. Die laaste foto is net ‘n blerts. Hy was eenvoudig te naby.
Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg. Oorkant verloor ons hom in die langerige wintergras.
Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie sy eerste en laaste gelui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.
Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry. Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete. Maar twee luiperds – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog! Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.
Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek. So asof dit ‘n beloning kon wees. Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie. Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie. Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!
Vir hulle is my antwoord: gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie. Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie. Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”
Comments