Die lang wag is verby. “Koerantkamerade” – my boek met grafskrifte vir nagenoeg 50 tydgenootlike pers-persoonlikhede – is vandag op Melkbos afgelewer.‘n
Welaangename oomblik vir ‘n derde en laaste raai-raai-riepa rondom die boek. Ons maak dit ‘n spesiale bonus-ene met 15 prikkelvrae.
Julle sal moet opskud. Tot dusver is omtrent net die identiteit van “Quintus van Blouen” raakgeraai – maar hoe anders, daar was dan ‘n foto by, al was dit van Quintus in ‘n WP-trui!
Hiermee die laaste vrae (drie korrekte antwoorde uit 15 word as redelik beskou):
1. Wie het FW de Klerk se wind uit sy seile geneem met die mededeling: “Ons weet dat die derde party se naam met ‘n E begin?”
2. Wie het die gaste by ‘n deftige dinee se asem weggeslaan deur ‘n kollega se vrou en sy skelmpie se name te verwar?
3. Wie het ‘n leraar uitgeboul met die vraag: “Dominee, waar is die terte?”
4. Wie is oor “fopnuus” beboet lank voordat die woord geskep is?
5. Wie moes handeviervoet kruip om by sy kantoor te kom?
6. Op wie se telefoon het ‘n man selfdood gepleeg deur miergif te drink?
7. Wie het altyd die laaste stukkie kameeldoring op ‘n kampvuur gegooi?
8. Wie is met die poedelkaal lyfie van ‘n mooi jong mamma gekonfronteer?
9. Wie was bekend as die “klein generaaltjie”?
10. Wie was die “op-vlieënde Hollander”?
11. Wie het so beeldryk gebid dat van sy tafelgebed gesê is: “Nou het ons sommer die weervoorspelling ook gekry?”
12. Wie is die vader van die uitdrukking “’n ligte mistykie”?
13. Wie se draagbare tikmasjien is vir ‘n bom aangesien?
14. Wie is ligvoets oor ‘n draadheining voor ‘n aanstormende bul?
15. Vir wie was koerantwerk so lekker dat sy nie kon glo jy word daarvoor betaal nie?
“Koerantkamerade” word deur Naledi uitgegee in samewerking met “Nagkantoor” en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Die boek beslaan 300 bladsye plus ‘n spesiale fotoseksie van 20 bladsye.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy die subsidie kos die boek net R220.
“Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.
Comments