….
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) mbt Die seuns van Bird Island, via LitNet:
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
….
Terwyl in die base se kantore by my ou werkplek, Naspers, seker op hierdie moment kwaai kopgekrap word oor die dodelike ope brief van prokureur Johan Victor, oor die Bird Island-gedoente, kan twee ligter storietjies oor Pers-verleenthede en die flinke reaksie daarop nie kwaad doen nie, meen ek.
Die eerste raak mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was). Ockie Geyser noem haar in sy boek oor die vroue agter vorige leiers , amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so onverwyld Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.
Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.
‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”.
Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) uit die redakteur, destyds Phil Weber, se hand aanvaar.
By (Die) Volksblad is weer ‘n slag skeefgetrap met die Olimpiese hoogspringkampioen Esther Brand. Dit was in die dae toe berigte nog in warm lood deur vakmmanne geset is. By ‘n berig oor haar buitengewone atletiese vermoëns oor die dwarsbalk voeg ‘n ondeunde setter toe by: “En dan is sy boonop ‘n virgin”.
Die proeflesers lees dit mis. Die eerste uitgawe verskyn. Iemand in die sportkantoor lees die naskriffie en maak alarm. Maar te laat. Die vragmotor met die koerante vir Kimberley – waar die waardige mev. Brand en haar man, Jan, destyds gewoon het, is reeds vort.
Selle storie as by Die Burger. ‘n Deputasie swaargewigte by die koerant word vinnig in ‘n motor gedompel en laat vat Kimberley toe. Skuins voor Dealesville sny hulle by die vragmotor met die gewraakte koerante verby.
Uiteindelik was hulle betyds om haar voor te berei op die skok en nederig om verskoning te vra. Sy was inskiklik. Eggenoot Jan was egter erg gesteurd – soos enige viriele man in sulke omstandighede seker sou wees.
Wie daardie setter was, weet niemand tot vandag toe nie. Sy fabriekskollegas en vakbond het soos oesters toegeslaan.
Comentários