Die Therons, Van D’s, Cora Marais, Marlene Scholtz, Paul Marais, die Le Roux’s en Venters.
Smeer die rolperse vet. Vele koerante kan spruit uit die saamtrek van Volksblad-veterane in Augustus 2015 in Sabiepark en in die intieme boskamp Balule in die KNP. Sy halfmaan van ses rondawels was net nommerpas vir ons.
Van ons ken mekaar al amper 60 jaar Die paar dae saam het ‘n vloedgolf heerlike herinneringe ontsluit van dekades saam in Bloemfontein en by ons geliefde koerant. Vele nuwe stories uit ons latere lewes is ook vertel – nie almal lughartig nie. Ons het behoorlik aan mekaar se lippe gehang.
Van die hoofredaksie van die 80’s was teenwoordig: die uwe en Tokkie, Paul Marais en Cora uit Centurion, Herman le Roux en Rina uit Johannesburg, Piet Theron en Petro asook Sarel Venter en Liesbeth uit Bloemfontein. Jan Scholtz sou ook uit Bloemfontein kom. Hy is helaas, weke tevore oorlede. Maar Marlene het haar man se skoene vierkant kom volstaan.
Met kuier, kampvure en koningskos het die spannetjie 70-plussers behoorlik feesgevier. Die voorslagvroue het heerlike geregte uit die baie basiese kampkombuisie opgetower. Die flukse Cora Marais altyd op die voorpunt, hetsy by die skink, opskep of skottelgoed was.
Piet Theron het hom, soos altyd, onderskei by die oop vuur. Die man kan braai. Die kruisskyf wat die Therons uit Wesselsbron samgebring het, was prima. Vergeet ook nie die gebottelde heerlikhede uit Curielaan 65 se tuin nie. Petro het altyd net nog ‘n bottel te voorskyn gebring: appelkooskonfyt, ingemaakte perskes, groenbone, beet en wat nog. Rina le Roux se beesstertpotjie was ‘n treffer. Liesbeth Venter het ons met roosterkoek en Vrystaatse groenmielies verras. Die deeg is die middag vars geknie.
Herman le Roux, ons begeesterde voëltjie-entoesias, het ‘n stapeltjie gedugte plakboeke saamgebring. Dit was die oorsprong van vele onthou-jy-nog’s. Sy wenfoto van Balule was toe nie van ‘n geveerde nie, maar van een van die kontrei se bedrywige hiënas.
Daar is baie gelag. Spitsvondighede het gevlieg. Een van die gades het na die spelling van die woord kleinood verneem: d of t. ‘n Klein noot (met ‘n t) is bv. ‘n tienrandnoot, het iemand laat val. ‘n Klein nood (met ‘n d) kan lol as dit ‘n groot nood word, het Paul Marais, steeds vlymskerp, dadelik laat hoor.
Aandoenlike oomblikke, Marlene oorhandig Jan se skinkbord aan HvD en T.
Daar was ook aandoenlike oomblikke. Op inisiatief van Sarel Venter is Jan se lewe met persoonlike anekdotes om die kampvuur oor die kleurryke Boesmanlander gevier. Die nimlike Sarel het vir ons ‘n kosbare boekie saamgebring wat aan sy ma behoort het: Die Transvaalse Laeveld, kamee van ‘n kontrei. Dit het in 1975 verskyn onder redakteurskap van Chris Barnard, begaafde Laevelder wat in 1960 saam met my in Afrikaans III op Tukkies was. Die eksemplaar het ná vele omswerwinge ‘n dankbare tuiste in Tarlehoet se boekrak gevind.
Aan die begin van die kuier is ‘n prag-skinkbord op Tarlehoet se stoep deur Marlene Scholtz namens die groep aan my en TvD oorhandig. Sakdoeke is uitgehaal om trane af te vee terwyl Marlene aan die woord was. Dit was Jan se laaste stuk houtwerk- so puik soos altyd. Marlene het ‘n kunstige skinkbordlappie van kant en katoen bygedra.
Het gisteraand weer daardie kosbare skinkbord van ons so gekyk. Dit is baie, baie spesiaal. In Tarlehoet (die Van D’s se boshuis in Sabiepark) is nou die skinkbord, ‘n kunstige kierie met ‘n vlakvarktand en ‘n sierlike sekelboslampie wat van hierdie vakman-filosoof se liefde vir hout getuig. Jan het vir die lampie ‘n stompie uit my braaihout herwin.
Ek voel half skuldig dat ek my kollegas so geboelie het om so ver te ry, nie almal in die maklikste omstandighede nie. Sabiepark en Balule is egter ware hartsplekke van die Van Deventers. Dit is waar ons graag na al die jare weer saam met die sout-van-die-aarde-kollegas en –vriende wou kuier. Selfsugtig dalk, maar nou-ja ….
Ons is van harte dankbaar teenoor elkeen wat die lang pad hierheen gevat het. Wat ‘n onvergeetlike, verrykende oudag-ervaring was dit nie.
Comments