top of page
Uitmelkbos

KLIP, KAKTUS EN KASTANJETTE


IMG_0795

IMG_0787

IMG_0793

IMG_0790

Strande van Puerto del Carmen

Die Spaanse eiland Lanzarote, net 100 kilometers van die kus van Afrika, is bekend om sy sonlig, strande, kraters, kastele, kaktustuine en endemiese albinokrappies wat al eeue in rotspoele oorleef. Die plek vol verrassings word wyd as een van die mooiste van die romantiese Kanariese eilande gereken.

Sy vulkaniese oorsprong verleen aan die eiland, ‘n speelplek vir toeriste, ‘n vreemde andersheid. Die oorheersende swart lawarots oral herinner plek-plek aan ‘n maanlandskap – vreemd maar bekoorlik.

Meer as 1 000 000 besoekers kom soek elke jaar op Lanzarotte die Spaanse “sonlig en liefde en wyn” wat almal so besing. Toe die MSC Opera op Woensdag 8 April in die hawe van die hoofstad Arrecife vasmeer, was die plesierige vakansie-oordjie Puerto del Carmen, soos vir die meeste, bo-aan my en Tokkie se lysie.

Carmen – jy hoor mos sommer in die naam al die klank van die kastanjette en smeulende Latynse sensualiteit.

Die Avenida de las Playas, hoofstraat van Puerto del Carmen (eintlik ‘n wandellaan met net ‘n enkelbaan vir verkeer), kronkel strandlangs sowat sewe kilometer langs die eiland se suidkus. Een aanloklike strand op die ander is ingeryg aan die een kant. Hope restaurants, tavernes, boetieks en allerlei klein winkeltjies staan styf langs mekaar aan die oorkant. Aantreklike woonstelle, villas en hotels steek agter die toeristetrekpleisters uit.

Van die strande (waar bostukloosheid in die mode is) sien ‘n mens in die verte die gryse vulkaniese berge van Papagayo en op ‘n helder dag ook die volgende eiland in die ketting, Fuerteventura. Het my aandag nie deur die heersende strandkultuur laat aflei nie en die Canon liefs op die Papagayos gefokus gehou!

Die toneel voor jou is tipies mediterreens. Blou lug, blou see, kalm soos ‘n dam, honderde blou dekstoele uitgepak op die wit sand. Gesellige buitelug-kuierplekke. Wit bousels met gekleurde balkonne. Wat dit anders maak as elke ander mediterreense eiland wat ek nog besoek het, is die oorheersende swart lawarots, wat skerp afsteek teen die seesand en wit skuim van die brekende klein branders.


IMG_0772

IMG_0764

So bou hulle met lawa

Die lawarots kom nie net voor in natuurlike formasies van alle groottes nie; ook in die vorm van klipwerk. Lyk of alle mure en ander strukture met gekapte lawarots gemessel is. Plaveiselstene kom uit dieselfde bron. Selfs die skoorstene teen die wit villas van Puerto del Carmen is nie baksteen of leiklip (oorspronklik of nagemaak) soos hier te lande nie. Dis pikswart lawarots wat treffend met die witgekalkte mure kontrasteer.

Amper so vreemd soos die “maantonele” op en langs die strand is die kaktustuine oral. ‘n Vlugtige besoeker kan verskoon word vir die eerste indruk dat net kaktusse en palmbome in die grys as groei. Die waarheid, soos ons later op ‘n lang busrit met ‘n ander roete terug na Arrecife self gesien het, is dat heelwat wingerd die voorkoms van die eiland se bodem ophelder. Plek-plek tussen die lawa en versteende as is ook groen spatsels vrugteboorde en groentetuine.


IMG_0767

Kaktustuine

Suid-Afrikaners voel sommer dadelik tuis op die promenade van Puerto del Carmen. Bly saans van die strande af, word besoekers gewaarsku. As die son sak, sak bendes Spaanse sakerollers glo op niksvermoedende toeriste toe. Klink bekend.

Die meeste eilandbewoners is joviaal en hulpvaardig, al lol die kommunikasie. Toe ons ‘n bus wil bestyg met nie die voorgeskrewe kleingeld nie, het ek vinnig by ‘n kroegie ingestorm om my papier-euros in munte om te skakel. Die busbestuurder het jou werklik geduldig vir die verbourereede ou gryskop gewag!


IMG_0789

Afrikakroeg

(Een van die kuierplekke langs die Avenida de las Playas herinner ook aan die verre Suid-Afrika met sy naam, Africa bar/restaurant, ‘n skets van ‘n befoeterde maanhaar se kop met trekke van ‘n Egiptiese kryger op sy uithangbord en ‘n yslike houtbeeld van ‘n kameelperd op sy eersteverdieping-stoep. Later was ek spyt dat ek nie vir Tokkie by “Africa” gaan afneem het nie. Sy was die dag “ïnheems” geklee in ‘n blou “Afrique”-bloese met nie net een nie maar twee langnekke op die bors. Drie kameelperde op een oggend saam op Lanzerote. Reken net!)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page