Ons klein Josef (Christopher 4) draf vanoggend op in ‘n uniform wat sy oupa nogal aan daardie ander Josef met sy “amazing Technicolor dreamcoat” herinner. Christopher kan bars van die trots, al was hy gister in trane omdat sy ouma nie op Oumadag kom kyk het nie. Sy is wel vanoggend by die groter okkasie, maar op die oomblik het de vername stukkie inligting hom ontgaan.
Oupa stuur ‘n lekkergoedjie saam. Hy is afwesig weens ander verpligtinge, maar nie min danig op die Josef van Welgemoed se klein skooltjie nie. Meen te sê, twee jaar gelede was Christopher ‘n beskeie muis in die stal. Verlede jaar was hy een van die Wyse Manne (Oumagrootjie had nogal ‘n konneksie met Bethlehem, al was dit dan nou die een met die h). Vanjaar is sy naam in ligte as’ t ware. Hy praat drie sinnetjies. Meteoriese opgang.
Hoop nie hy raak verward soos die knaap wat op ‘n keer die rol van herbergier moes vertolk nie. Hy vergeet toe sy woordjies. Maar aardjie na sy vaartjie doen hy ‘n gulle, impromptu aanpassing: “Nee,” antwoord hy op die vraag of hy vir Josef en Maria ‘n slaapplekkie het. “Maar kom in vir ‘n dop!”
Hoop ook nie onverwagse verwikkelinge duik op soos op George waar ‘n jong Maria skielik haar nood moes uitkreet nie: “Mamma, ek wil piepie.” Mamma het opgevlieg, Maria gegryp en uit haar nood gaan verlos. Na ‘n kort onderbreking kon die konsertjie voortgaan. Kennismaking met die verhoog op so ‘n tengere ouderdom kan soms veeleisend raak. Een Maria’tjie het sommer al met die repetisies die gewig op haar skouers ervaar. Sy het by mamma kom kla: “Dis swaar werk om ‘n maagd te wees”.
Op skool onthou ek hoe ons ligsinnig sit en giggel het oor ‘n maat wie se meisie op die verhoog haar ongehude swangerskap moes bely. Die storie het by haar uitgekom. Sy wou om die dood nie glo dat haar ridder nie onlojaal saamgegiggel het nie. Sy WAS daarna sy meisie. So kan dinge in ‘n onbewaakte oomblik handomkeer verander.
Comments