top of page
Uitmelkbos

KLAPSOEN VIR KLEINNIG CHARLIZE


Met die komplimente van Theo Verwey


G’n wonder ons Afrikaners is so gek na die uitlê van familie nie.  Ons is amper almal verlangs aan mekaar verwant.

 So lyk dit altans as jy saam met Theo Verwey van Port Alfred in die stambome van bekendes en bemindes (soos hy dit stel) begin rondklouter.

 Theo is ‘n kliniese sielkundige en amateur-genealoog van die eerste water. Hy het ‘n databasis van 700 000 name, en kan met ‘n slim program in ‘n japtrap opspoor watter bloed in watter are vloei.

 Nadat ons paaie op Facebook gekruis het, kon ek tong-uitstekerig vir my kollegas en familie laat weet:  Julle het nie geweet watter vername politieke konneksies die uwe het nie!

 Met die komplimente van Theo  kon ek spog dat ek ‘n vyfde neef van F.W. de Klerk is en ‘n sesde neef van P.W.  Botha en Pik Botha.  My en P.W. se gemeenskaplike voorouers is my stamouers, Gerrit-Jansz van Deventer en Ariaenje Abrahamse.

 Dink net P.W. kon ‘n Van Deventer gewees het …. Of HvD ‘n Botha! Die “daaise” moes net anders geval het.

 Nadat allerlei bewonderende blikke en buiginge oor my onbeskeie mededelings  rakende die blouvbloed in my are van oral na my kant gekom het, het ek nog groter roem begin nastreef.  Dis mos maar menslik.

 Weet julle, kon (weer met die komplimente van Theo ) ek wyd en syd uit die hoogte verneem: Ek en die grote Frik du Preez is ook sesde neefs (hy weliswaar Springbokslot en ek net derdeliga-vleuel, maar darem in Pretoria)? Die smeulende Charlize Theron is  ‘n sewende niggie.  As ek haar in Hollywood of Benoni raakloop, groet ek hierdie klein-klein-klein-nig wraggies met ‘n klapsoen!


Toe Herman le Roux laasgenoemde hoor, het hy my (jantjierig, vermoed ek) vermaan om nou liewer op te hou. Netnou word ‘n bloedverwantskap met Saartjie Baartman ontdek!  Herman, ek is dadelik spieël toe.

Maar jy kan maar sinies wees, kollega. Onder my verlangse familie tel ook die nimlike Neelsie, Cornelis Jacob Langenhoven, en  dr. Chris Barnard, die hartdokter.  Ek en Chris en P.W. kom al drie via oubaas Gerrit-Jansz en sy jong bruid Arienje se nalentskap.

 Ek glo Jakob Hendrik Pierneef moet sommer nabyfamilie wees. Ek is dan selwers ‘n Jakob Hendrik.   Kon egter nooit juis teken nie – nie eens ‘n boom nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page