As jy kan lag met ‘n traan, is die omgekeerde seker ook moontlik – jy kan grens met ‘n grininik.
Laasgenoemde verskynsel is nogal eie aan Sabiepark. Eienaars sal wurgend vertel van hul jongste onplesierigheid met bobbejane. Net as jy voel om saam in trane uit te bars, breek die slagoffer se humorsin deur.
Diep sugte van pyn word dan opgevolg deur ‘n skouerophaling van gelatenheid en dalk ‘n spitsvondige kommentaartjie van berusting.
Nie alle lede van die spesie “homo sapiens” is ewe lankmoedig en genaakbaar nie. Dit verg ‘n pakket van deugde om byvoorbeeld nog ‘n lughartigheidjie te kan pleeg as die sekelsterte jou domein binnedring, al jou breekgoed (en nog ‘n paar onbreekbaarhede op die koop toe) breek, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn vlek, jou biltong uit jou bakkie skaai, ‘n gat deur jou grasdak dolwe, onder jou duvet inkruip en jou bed omskep in ‘n ablusieblok (‘n vorige blog: Kees in die kooi) of in bloedige somerweer in jou swembadjie kom afkoel – ‘n morsigheid as jy ooit een gesien het.
Die uwe moet bely hy sukkel om in sulke tergende situasies selfbeheersing te behou. Hy bewonder vriende soos Kapous Mouton van “Vreklekker” hier hoër op in Wildevystraat wat in die beproewendste omstandighede met ‘n berustende “ag nou-ja” kan reageer.
Kapous se peperduur nuwe bril is vir ‘n wyle onbewaak op die stoep gelaat. Dit was die laaste sien. Luide “boggems” van oral om die huis het die geheim verklap.
“Ag nou ja”, was Kapous se lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy “Beeld” beter te lees.
Skaars twee maande later was Kapous en Leonora die slagoffers van ‘n klassieke bobbejaan-inval op soek na kos. Elke kas word dan oopgeruk. Agterna is die vloere besaai met stukkende eiers, pap papaja, meel, suiker, koekies, kookolie, verskeurde plastiek en wat nog – natuurlik gemeng met die eie uitwerpsels wat blykbaar deur die stimulasie van sulke vandalisme tienvoudig geaktiveer word.
Net een blik beskuit is die Moutons gespaar. Die deksel was toegeplak. Dit was vyf uur lank se rugbreektaak om orde te skep.
In die Sabiepark-Nuusbrief het Kapous in kleur en geur van die wedervaring vertel . Veral twee opmerkings was vir hierdie leser nogal verrassend.
Vir eers vertel die ou vriend hoe hy in sy geestesoog kon sien hoe ‘n jong knaap ‘n sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag om ook te deel in die fees. Mielies spat in elke rigting.
Maar dan die kersie op die koek: “Ons het die dag maar beskou as ‘n welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker die eerste reg het op die bos. “Lank lewe die bobbejane!”
“Lank lewe die bobbejane” – verbeel jou! Ek gryp sommer die naaste skietding.
Nog iemand met Kapous-inklinasies (grens met ‘n grinnik) is klaarblyklik ds.Theo Danzfuss van Muduni Lodge. Hy vertel op Sabiepark se Facebookblad van ‘n kese-Koekedoor met ‘n kinkel:
“So ‘n tydjie gelede was daar ongeveer 21 bobbejane gelyktydig (yslike groot mannetjies ingesluit) binne in ons huis se woonkamer-kombui. Daar was nie ‘n enkele eier, vrug, koekie, beskuit ens wat hulle nie verslind het nie.
“Het probeer koek bak deur twee dosyn eiers met 5kg sakkie meel plus ‘n pak suiker gegeur met vars pap slap bobbejaanmis te meng. Voordat hulle die mengsel in die oond kon sit, het ek die vertrek binnegekom. Toe ek die kamer binnestorm en met my plakkies op mekaar slaan, het hulle so geskrik dat elkeen ‘n yslike hoop mis agterlaat (bo en behalwe dit wat reeds in hulle koekmengsel was) net waar hy gesit het.
“Onnodig om te sê dit het ons drie dae geneem om huis weer skoon te kry. Moes al die meubels uitdra, en alles met seep en Dettolwater was. Reuk was vir week lank nog in die huis.”
En die liewe dominee maak nog grappies oor ‘n koekresep van meel en bobbejaanmis!
Hy sluit darem af: “Gelukkig het ons skuifdeure voor en agter sodat hulle vinnig agter kon uitgaan toe ek voor inkom, want so klomp bobbejane wat vasgekeer is, is lewensgevaarlik.”
Op die waarskuwing seg ek sela.
Comments