top of page
Uitmelkbos

KERSBRIEF UIT MELKBOS

Liewe vriende

Dit is die maand Desember in die jaar 2020. Koronajaar. Of Covid 19 die jaar. Dis weer tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.

Hoe ook al, soos almal ter wêreld het die Van Deventers nie ongeskonde uit die verderflike virus se kake ontsnap nie. Die eerste winter in 24 jaar was ons nie in Sabiepark nie, net tuis hier in Penguin Place 11. Die Kaapse winterweer het ons nogal verras. Darem nie net storms nie. ‘n Namiddag-wyntjie op ons bankie by die see was ons by geleentheid beskore.

Die Oppiwaterkunstefees op die MSC Musica (en die bekendstelling ter see van “Na verre hawens” ) is gekelder. Van swartwoudkoek saam met Johan en Mariza op Swakopmund het niks gekom nie, en die boks boeke staan maar hier in die studeerkamer en stof vergaar. Die feesvaart is geskeduleer vir einde Januarie op die MSC Orchestra. Lyk maar twyfelagtig.

Op Tokkie se onversadigbare leeslus was die impak groot. Eers het sy haar verknies oor die biblioteek wat sy deure gesluit het. Toe herontdek sy die juwele op ons eie boekrakke – ‘n vreugde soos min. Die rehabilitasie van ons grasperk ná die verwoestende Kaapse waternood van die vorige jaar het onverpoosd haar aandag geniet. Ons kan weer sing van: ”The green, green grass of home”. Dis haar monumentjie van die grendeltyd.

Al die kinders en kleinkinders het natuurlik uitdagings en frustrasies beleef – soos in elke familie. Kan gelukkig aan meeste fronte ‘n relatief goeie uitkoms rapporteer. Slegste ervaring is arme Thomas s’n. Moet Maandag ‘n tweede keer in 15 weke teater toe vir ‘n stuitjieoperasie (pinoilidale sinus) – nes oupa Hennie s’n in 1967 en pa Brent s’n (weet nie watter jaar nie). Dis maar ‘n ongemaklike saak met allerlei implikasies, o.m. met die eksamen.

Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hy ‘n derde keer deur die onplesierige Covid-19-toets. Boonop het Covid-19 hom die geleentheid ontneem om sy WP-kleure in aksie-netbal amptelik te verwerf. Hy was in die span. Toernooi is egter afgelas. Thomas sal 2020 nie lig vergeet nie.

Op George moes die jaarlikse Groot Stap vir Mariza (en Migael) se Legacy Centre verander word in ‘n virtuele stap.

‘n Groot Covid 19-skok was die dood van buurman Kosie Olivier S.C. in November. Hy was slank, fiks en in sy middel-60’s. Sy mooi vrou, Jammie het in 2016 skielik gesterf. Dat hy net vier jaar later sou volg, was volslae onverwags.

Die ontnugterende verdwyning van Volksblad uit die hoofstroom van koerante – die geliefde blad verskyn nou net in digitale gedaante – het Hennie geskud. Dit het ook die vonk verskaf vir ‘n vinnige selfpublikasie, “Koerant”, waarmee hy terselfdertyd sy 80ste (op 3 Januarie 2021) vier – as “vier” in hierdie konteks die regte woord is. Die stemmiger “gedenk” is waarskynlik meer gepas.

De Novoboeke, uitgewer van selfpublikasies, het “Koerant” ‘n alternatiewe e-baadjie aangetrek, soos tevore ook vir drie vorige titels, “Spore in die bos”, “Kroniek van ‘n koerantman” en “Praat-praat in Tamatiestraat”.

Bakenverjaardae in 2020 is/was Mariza se 50ste op 12 Desember en die tweeling, Jacob en Thomas, se 16de op 26 April. Twee yslike groot seuns geword. Albei is weer in Stellenberg se leerlingraad. Oupa en ouma blom. Vir Thomas wag die begeerde WP-kleure in die nuwe jaar. Hy is weer in die span.

Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wie weet in hierdie onsekere tye? Weet darem dat ‘n nuwe bosboek uit Hennie se pen in Mei by Protea Boekhuis verskyn – sy 21ste en waarskynlik laaste. Die naam is “Bure van nature”. Julle sal die twee mense op die voorblad herken al sien ‘n mens net hul rûe.

Daarmee fluit-fluit. Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2021. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het.

Hennie & Tokkie

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page