Monument wat met jou hart praat
Afgesonderdheid, ‘n besoekersonvriendelike pad – ongetwyfeld ook politieke sensitiwiteit – maak van Bloedrivier ‘n stiefkind in die familie van SA monumente. Dit behoort nie so te wees nie.
Die bruin-brons walaer oor die Ncomerivier – Bloedrivier vir Afrikaners – in die grootse Noord-Natalse heuwellandskap gryp die besoeker aan; nie in ‘n gesindheid van triomf oor die magtige Zoeloeleër van Dingaan nie, wel gevul met verwondering oor die geloof, onverskrokkenheid, doeltreffendheid en doodkry-is-min-ingesteldheid van daardie 464 Voortrekkers. Moenie hul getroue bediendes en agterryers vergeet nie.
Op ‘n afstand is die indruk van die kring waentjies een van broosheid en weerloosheid. Jy sidder om te dink wat in die Gideonsbende in daardie klein vesting se harte moes omgaan toe die 12 000 tot 15 000 Zoeloekrygers met hul assegaaie net doodsveragtend bly kom en kom. Dan herlees jy hul gelofte wat die sewe dae voor die slag aand vir aand herhaal is. Jy eer opnuut ‘n reddende God, en die intrinsieke waardes van ‘n voorgeslag. Tyd en politieke veranderinge kan dit nie uitwis nie.
In ‘n ou foto-album van my ma is ‘n kleinerige kiekie wat op 16 Desember 1938 by Bloedrivier geneem is. Pa en ma het vir die eeufees van ons plaas Middelin (vandag is dit middelin ‘n Zoeloereservaat) in die nabygeleë distrik Babanango oorgery. Toe was die pad seker nog ‘n hele ent slegter en van 4 x 4’s natuurlik geen sprake nie. As pa en ma in 1938 kon en wou gaan, moes ek in 2015 ook – klippers ten spyt.
Die bietjie vasbyt was dubbel en dwars die moeite werd. Die oorspronklike kakebeenwa-monument, deur Coert Steynberg uit grou graniet gebeitel; die replikas van die Johanna van der Merwe-eeufeeswa, uit gegote staal vervaardig en met brons oorgeblaas; “Ou Grietjie” en die ander kanonne; die klipstapel … die hele terrein praat met jou hart in ‘n taal wat aanklank vind.
Bloedrivier. Zoeloes noem hom Ncome. By ‘n bruggie oor Bloedrivier het ek uit die Honda geklim en lank in stilte gestaan; my die grusame toneel van ‘n berg gesneuweldes en hul bloed in die rivier probeer indink. Oorkant pryk die moderne Ncome-momunent; deur ‘n nuwe bestel in 1999 opgerig om ‘n ander vertolking van Bloedrivier te vergestalt. Jou gedagtes gaan ver terug en ook vorentoe.
Dat daar saam met jou swartmense by die “wit monument” was en witmense uit die noordweste terselfdertyd by die “swart monument” – dit was dalk ‘n onsigbare nuwe klipstapeltjie hier wat tog ‘n bietjie hoop bied.
In Pietermaritzburg was ons vroeër by die Voortrekkerkerkie – die sogenaamde Geloftekerk – in die hart van die stad. Langs die kerk is ‘n taxi-staanplek, groot soos ‘n stasie. Wat daar in die bedrywige stadskern nie so helder tuisgekom het nie, tref jou ten volle as jy by Coert Steynberg se beeld staan: dat daardie beskeie kerkie in die stad van Gerrit Maritz inderdaad die lewende simbool is van die uitvoering van ‘n dure gelofte wat beantwoord is.
Bloedrivier is verreweg nie al slagveld naby Dundee nie. Die geskiedenis van my geboortedorp is inderdaad met die bloed van Voortrekkers, Boere, Engelse en Zoeloes deurdrenk. Tereg bekend as die poort tot die slagvelde, spog Dundee dat ‘n mens 68 slagvelde en plekke van kleiner skermutselings binne twee uur kan bereik.
Benwens Bloedrivier, is epiese slagvelde soos Isandlwana, Rorke’s Drift, Talana en Elandslaaagte veel nader as twee uur se ry. Maar jy hoef nie na almal te ry nie. Besoek net die Talana-museum buite die dorp. Hier aan die voet van Talanakoppie waar Boer en Brit aan die begin van die ABO in 1899 mekaar gegryp het, kan jy ure verwyl.
Talana is nie ‘n gewone museum nie – dis ‘n grote erfenisplaas met 22 geboue. Van die bloedige militêre geskiedenis tot Dundee se eertydse status as steenkoolhoofstad, van glasware tot kralewerk, word uitgebreid uitgebeeld. Onthou, Dundee was in ‘n stadium bekend as “Coalopolis” – die hart van ons rykste steenkoolvelde. Die mynbousaal laat jou voel dat jy werklik ondergronds is. Presies so onthou ek die swart doolgange van Natal Anthracite se Boshoekmyn.
Treffend is die versoeningsmuur, met boodskappe oor grense heen wat vandag tog so broodnodig is. (Van brood gepraat: Ons kan ook rapporteer dat die mynrestaurant Milner’s Rest se vars pasteie hul reputasie sekerlik verdien.)
Ons het lank gedwaal in die huis waar die ongelyke stryd tussen Boer en Brit met o.m. uniforms, wapens en foto’s lewe kry. Liedere soos “Kent gij dat volk” en “Sarie Marais” kom oor die luidsprekers, saam met “God save the queen”.
“Het heeft geofferd goed en bloed voor vrijheid en voor recht” – hierdie woorde het in my kop bly draai toe ons van Talana wegry.
Naby Ladysmith vroeër op ons toer het ons ook by Spioenkop aangery. Hoe bly is ek nie dat ek ook by daardie rowwe uitdraaipad ná ‘n oomblik van aarseling die regte besluit geneem het.
(Fluit-fluit my storie is uit. Die reis van 3 000 km op en af in KwaZulu-Natal is klaar. Deel vir oulaas ‘n insidentjie – dalk die vreemdste ervaring op ons toer. Ons ry tussen Pongola en Louwsburg – pad met wildreservate aan weerskante. Skielik sien ons ‘n bebloede vlakvarkie op die teerpad. Klaarblyklik voor ‘n motor beland. Die bakkie voor ons stop dadelik. Twee manne spring uit – een met ‘n panga. Die ander gryp die gewonde vlakvark, hou vas vir dood; die pangaman lig sy wapen hoog en kap, en kap, en kap. Seker otjiepotjie gemaak daardie aand. )
Commenti