top of page
Izak de Vries

Keina Swart: Toe my 11-jarige sê sy wil nou ’n grootmensboek lees


Foto deur Herman Steyn Keina Swart is ’n joernalis en die redakteur van Die Pos op Bela-Bela. Sy het sukses behaal as kinderboekskrywer, maar het onlangs ook Bloujaar geskryf, wat die aandag trek. Keina se kroos, wat almal boekliefhebbers is, dreig elke nou en dan om meer gewild te wees as hulle ma. Ek het haar ook gevra oor #IreadYA wat hierdie week in die VSA aan die gang is. In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte? Ek hou van die woord “jeuglit”. Dit sê lekkerder as “jongvolwasselit”. En ja, ek dink daar is nogal ’n leemte by ons. My kinders is ywerige lesers en die dag toe my 11-jarige vir my sê sy wil nou ’n “grootmensboek” lees, het ek nogal lank voor my boekrak gestaan en kopkrap. (Ek het uiteindelik Fiela se kind van Dalene Matthee en The Elephant Whisperer van Anthony Lawrence suksesvol aan haar bemark.) Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit? Soms weet ek nie vir wie ek nou eintlik skryf nie. Ek is ’n opgeleide joernalis wat harde nuusstories haat en toe begin koerantrubrieke en kinderboeke skryf het. Bloujaar was my eerste jeugboek. Dit was die moeilikste skryfprojek wat ek in my lewe aangepak het. Ek het nie daarmee probeer om in tieners se koppe te klim of om hulle te probeer verstaan nie (so al asof alle tieners kwansuis dieselfde is); ek het maar net geskryf soos my hart my voorsê. Met die skryf van die boek het ek wel my eie tieneremosies intens beleef en onthou hoe verward ek daardie tyd was. Dis vir my vreemd hoeveel volwassenes die boek lees en laat weet dat hulle daarvan gehou het. Daar is ’n verskil tussen kinderlitaratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien? Fantasie speel vir my ’n groot rol by kinderliteratuur. By jeuglit skop “die lewe” in. Maar dan weer, wanneer ’n wonderlike storie op ’n wonderlike manier geskryf word, het jy ’n wenresep. Dan sal daardie storie oor ouderdomsgrense heen gelees word. Een van die beste boeke wat ek verlede jaar gelees het, was The Terrible Thing that Happened to Barnaby Brocket deur John Boyne. Dit het nie aan my saak gemaak of ek as volwassene nou hier besig is om ’n jongvolwasseboek, jeugboek of kinderboek te lees nie — dit was ’n fantastiese storie. As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel? Nege oop arms en Die hemel van Heivisj deur Benny Lindelauf is bo-aan my lys. Plaaslik het ek baie van Fanie Viljoen se Betower gehou.

1 view

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page