top of page
Uitmelkbos

KARIKATUUR-MUUR


Tydsberekening is alles! So sê die wetenskaplikes. So glo die slim mense in die beleggingswêreld. So is dit in jou liefdeslewe. Oral is fyn tydsberekening ‘n bate; slegte tydberekening ‘n potensiële rampspoedigheid.

Met Zuma se val was ek amper-amper die slagoffer van vrot tydsberekening. Gelukkig het al die groot dinge op die politieke verhoog gebeur die dag voordat ek hospitaal toe is vir ‘n angiogram.

Nou’s dit weet hospitaalstories wat lol. Maandag is dit hospitaal toe vir ‘n hartoperasie. Donderdagaand, ironies, is op die Kyknetprogram vir seniors, “Huppel in jou stap”, ‘n insetsel oor die uwe wat op 77 “bly skryf en skryf en skryf”. Dit is nou n.a.v. die jongste pennevrug: “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. (Die program word Donderdag 1 Maart om 18:00 op kanaal 144 uitgesaai.)

Ek sal nie voor die TV-skerm nie, maar seker nog plat op my rug in die waakeenheid van die Panorama wees. Sal darem hopelik later ‘n heruitsending raakloop.

Vir diegene wat wel gaan kyk, gee ek graag ‘n bietjie agtergrond oor die wie, wat en waar. Die “wie” is Lieb Bester, wat die onderhoud voer, en ek. Die “wat” is die koerantwêreld. Die “waar” is ons sitkamer op Melkbos (grootste deel van die gesels) en die studeerkamer, o.m. voor die rekenaar waar ek baie tyd deurbring.

Een muur in my studeerkamer is die ene geraamde spotprente en karikature. Skoondogter, Mariza, het hoeka gese: As pa in die hemel kom, sal hy rondkyk wat daar is om te raam. Ek vertel graag meer van die muur n.a.v. ‘n blog van so drie jaar gelede.

Onder die vyftien-stuks sketse is ‘n paar wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het. Een deur ‘n onbekende kunstenaar is van ‘n korpulente kêrel met ‘n koerant in die hand en telefoon in die ander. Hy bulder: “I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.” Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 25 jaar gelede prematuur wou begrawe. Die karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, “Flaters en kraters”.

‘n Fred Mouton-skets toon HvD agter sy rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van “Die Burger” by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, “Oos, wes, reismoles.”

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof.” Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar.

Oudste spotprent s een wat in 1979 in “Beeld” verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. “Beeld” word in September 44. Botma en Van Walsem is al oorlede

Wat ook ver teruggryp, is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, “Nieman Reports”. Een engel verklap aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.” Na my wonderjaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, wyle Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent “Peanuts” present gegee. Die dierbare Peanuts-karaktertjie Linus is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: “Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?”

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: “Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?” In die derde antwoord Linus: “Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen.” In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: “Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?”

Uit my Kaapse dae is ‘n spotprent wat in “Rapport” was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is ook reeds heen. Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien.

Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: “BURGHE!” ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: “‘n Burger asseblief.” Die verkopertjie is verstom: “Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….”

Skielik besef ek: Al die spotprente teen daardie muur saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is my motto tot vandag toe: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page