Foto met vergunning van Norrlands Operan
Die Kaapse skrywer, Michael Williams, se opera Poet and Prophetess open Donderdag 30 Oktober in die Kunstekaap.
Daar is slegs vier vertonings, so liefhebbers van die kunste moet vinnig spring.
Die storie volg die ware verhale van twee bekende mense, Nongqawuse, die Xhosa-profeet wat berug geword het vir haar oproep om die Xhosas se beeste dood te maak, en ’n Sweedse digter, Bengt Linder. Williams bring hulle dan, klaarblyklik fiktief, bymekaar.
Williams, ’n Kapenaar, het die stuk geskryf as deel van ’n ooreenkoms tussen Kaapstad Opera en Norrlands Operan in Sweede.
Die musiek, wat geskep is na aanleiding van Williams se woorde, is gekomponeer deur die Sweedse komponis Mats Larsson Gothe.
Na die Sweedse première is die geselskap sewe keer teruggeroep vir ’n buiging. Die pers was liries oor die stuk.
Volgens Williams is dit ’n grootse stel, met ’n boot op die verhoog en geweldig baie mense. (Ek hoop om baie binnekort ’n behoorlike onderhoud met hom te voer. Hy was nou vir ’n hele ruk in Sjina.)
Komaan, kom ondersteun wêreldklas Suid-Afrikaanse kuns. Jy sal selfs die woorde verstaan, dis net die musiek wat Sweeds is!
Ek het reeds bespreek. Kliek hier om te bespreek.
Daar is vier vertonings:
- 30 Oktober
- 1 November
- 5 November
- 8 November
Alle vertonings begin klaarblyklik om 19h30, maar hou die kaartjies dop. Kaartjies kos R150 of R175. Pensioentrekkers en studente kry afslag, en daar is afslag op blokbesprekings.
Kliek hier vir meer inligting oor die opvoering Swede.
Librettis: Michael Williams
Komponis: Mats Larsson Gothe
Regisseur: Matthew Richardson
Dirigent: Jonas Alber
Stelontwerp: Lars Östbergh
Kostuumontwerp: Annsofie Nyberg
Ontwerp van beligting: Lars Östbergh
Choreograaf: Sbonakaliso Ndaba
As julle wil voorberei, lees Zakes Mda se Heart of Redness. Dis ’n wonderlike boek.
Comments