Ek en Piet op Melkbos se stoep.
Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het. Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.
Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het, van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys: Kan nie is inderdaad dood.
In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie. Hy was nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas. Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.
By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries. Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak. Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes. Dit is “salf vir sy siel”. Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk.
Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.
Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer
By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.
Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!
Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub. Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.
In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.
Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik. Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra
In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word. Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.
In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.
Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..
Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend. Vir sy kleinkinders is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend. Piet is waarlik ‘n man duisend.
Comments