Jackie Stewart op die QM2. Die klein kampioen teken die video oor die Monaco Grand Prix van 1971 en die mense staan tou.
Bedink die verbasing (skrik) van ‘n groep Belgiese nonne oor hulonverwagse konfrontasie met ‘n poelkaal jong man op die naat van sy rug op ‘n bed van strooi in ‘n plaasvragmotor.
Wat staan ‘n ordentlike non in so ‘n onbehoorlike krisis te doen? So vinnig as moontlik die man se skaamte bedek, natuurlik. Wat hulle terstond en deeglik gedoen het. Toe stap ‘n ander man in – een met so ‘n weglêsnor – en trek die prostate figuur se klere dadelik weer alles uit.
Die kaal man was sir Jackie Stewart, vermaarde Skotse Formule 1-kampioen, bekend as “The Flying Scot”. Die ander man in die verhaal is sy medejaer Graham Hill – vir wie dit, volgens die spitsvondige Stewart, nie ongewoon was om iemand anders se klere uit te trek nie, egter nie ‘n ander man s’n nie.
Rede vir die klere-episode was ‘n ongeluk in die rampspoedige Belgiese Grand Prix van 1966 – ‘n storie wat ek uit my hoofsubdae by Die Volksblad goed onthou. Dit was groot nuus. Stewart en ‘n rits ander jaers het in ‘n geweldige reënstorm van die baan gejaag. Die Skot se BRM P261 het eers ‘n telefoonpaal getref, toe ‘n boskapper se hut. Dit was, in sy woorde, “opgevou soos ‘n piesang”.
Stewart is 25 minute lank in ‘n dam hoogs ontvlambare vliegtuigbrandstof in die wrak vasgekeer. Hill en nog ‘n renjaer wat kort na Stewart ook van die baan getol het, Bob Bondurant, het hul makker te hulp gesnel. Hill het hom nog die kwinkslag veroorloof: “You look very second hand”.
Daarna het hy en Bondurant met die gereedskapstel van ‘n toeskouer aan die werk gespring. Hulle het koorsagtig gewerk om die klein Skot te bevry terwyl die groeiende plas brandstof rondom hulle enige oomblik in ‘n vuurbal kon ontplof. In die 25 minute wat die operasie geduur het, het geen wedstrydbeampte gesig gewys nie!
Sy redders het Stewart na ‘n plaas gedra en op ‘n bed van strooi gemaklik gemaak. Op versoek van Stewart het Hill sy deurweekte renpak verwyder. Die kragpetrol het sy vel gebrand en was buitendien ‘n yslike risiko. Maar hoe moes die stomme nonne dié detail nou weet?
Selfs toe was die arme Stewart se beproewing nie oor nie. Hy is versigtig in ‘n ou ambulans gelaai wat hom na ‘n plek geneem het wat as mediese sentrum moes deurgaan. Hy is daar op ‘n seil-drabedjie gelaat. “Daar was geen dokter nie. Ek is op die kateltjie gelaat, op die vloer, omring van sigaretstompies. Dit was ver van skoon.”
Uiteindelik is hy in ‘n ander ambulans gelaai wat met loeiende sirenes en ‘n polisie-eskort die pad gevat het na die hospitaal in Liege. Op pad het die eskort en die ambulans geskei geraak. Toe verdwaal die ambulans. Die bestuurder het nie die pad geken nie.
Eind goed alles goed. Jackie Stewart (nou amper 75) het heelhuids uit die ongeluk gekom. Hy was een van die eminente sprekers in Cunard se verrykingsprogram Cunard Insights op die Queen Mary 2 op ons vaart na Sydney. Selfs die uwe wat geen Formule 1-entoesias is nie, het in ‘n volgepakte Royal Court Theatre aan sy lippe gehang. Later het ek gretig ‘n vertoning van Roman Polanski se dokudrama Weekend of a Champion in die Illuminationsteater gaan bywoon. Ook daar was geen sitplek leeg nie.
Die film dek vier dae in Mei 1971 toe Polanski sy vriend, wat in daardie stadium die eerste keer wêreldkampioen was, na Monaco vergesel het vir die 29ste Monaco Grand Prix. Die rolprent wys hoe ‘n jong Stewart vol selfvertroue en met lang swart luislere sy renmotor as’t ware ratverwisseling vir ratwisseling deur die uitdagende roete in Monaco vat.
Stewart en Polanksi in 1971.
Aan die einde sit die twee vriende en gesels in dieselfde weelderige hotelsuite waar Stewart vier dekades gelede tuisgegaan het. Hulle gesels oor die opwindende dae wat verby is, Stewart se stryd teen sy erge disleksie toe hy ‘n kind was – asook sy onvermoeide kampanje om veiligheid op renbane te bevorder. Van die skouspelagtigste ongelukke op die renbaan word vertoon: motors wat deur die lug tol, wat aan flarde spat, wat in vlamme uitbars.
“In die 1970s was motorrenne gevaarlik en seks veilig,” sê sir Jackie met ‘n stout glimlag. Mnr. Polanski kan nie anders as om nadenkend saam te stem nie.
Stewart se kampanje vir groter veiligheid in motorsport spruit grotendeels uit daardie 1966-ongeluk toe Graham Hill en Bob Bobdurant hom gered het. Danksy sy energieke pogings is motorrenne dalk nie meer heeltemal so gevaarlik soos destyds nie. Altans, so glo hierdie leek nadat hy die voorreg gehad het om sir Jackie Stewart se stimulerende voordrag op die QM2 aan te hoor.
Commentaires