Oor die hoofberig van die eerste Rapport onder die redakteurskap van die jong nuwe redakteur, Waldimar Pelser, hang sware vraagtekens, soos die donker reënwolke vandag oor die Kaap.
Joernalistieke etiek kom ernstig ter sprake as die woord (‘n waarskynlike liegstorie om ‘n bose daad te probeer regverdig) van skuim (volgens sy eie ma) soveel geloofwaardigheid gegee word ten koste van ‘n vermoorde pilaar van sy gemeenskap, wat ongelukkig nie meer daar is om homself te verdedig nie.
Die voorblad van die invoegsel Weekliks verontrus hierdie leser amper nog meer as die onsmaaklike voorblad van die koerant, indien moontlik. So ‘n onbeskroomde aankondiging van “hier is ek” is werklik vreemd aan die koerantkultuur waarin ek ‘n loopbaan van 37 jaar agter die rug het.
In die rubriekkrywer Hanlie Retief se basuingeskal oor haar nuwe baas duik darem ook ‘n stukkie stof tot nadenke uit die kantoor van die besturende direkteur, Koos Bekker, op. Bekker verklaar oor Pelser se jeugdigheid: As jy jonk is in so ‘n pos kan jy óf skouspelagtig slaag óf skouspelagtig misluk.”
Vir wat die mening van ‘n 72-jarige werd is, is my enigste kommentaar dat die uitdaging om “skouspelagtig (te) slaag” vir Waldimar Pelser, na my oordeel wat reg of verkeerd kan wees, by baie lesers wat saak maak, ná dese gedugter sal wees as tevore.
Comments