top of page
Izak de Vries

John Matshikiza is dood

Suid-Afrika het gisteraand nog een van ons skrywers verloor.

John Matshikiza was ’n baie interessante man. Ek het hom “leer ken” danksy die rubrieke “With the lid off” wat hy in die Mail & Guardian geskryf het. Hulle was altyd skerp en altyd weldeurdag.

John het ook, onwetend, ’n slag my bas gered tydens ’n voorlegging aan die onderwysdepartement.

Hier is die storie: So ongeveer drie jaar gelede het ek vir Madlala gevra om te help met ’n paar joernalistieke stukkies vir ’n skoolhandboek; wat my ou pel toe ook doen. Die een artikel se opskrif was iets soos: “Butcher, baker, digital renderer.” Die hele ding het gegaan oor nuwe werksgeleenthede – baie oulik vir skoolkinders.

Toe die verslag oor die boek terugkom, is die kommentaar egter, in die heerlikste Afrikaanse Engels, dat hulle nie die boek wil hê nie. Hoekom nie? “It does not reflect South Africa.”

Gelukkig kies hulle toe dié stuk van Madlala om te toon hoekom hulle voel die boek is nie geskik nie en sê: “Black people do not write like that.”

Na die woede het ons begin lag en toe pluk hierdie boerseun die rassekaart reguit onder die groepie se agterente uit. Ek sê toe ek weier om hulle rassistiese gekwetter te aanvaar. Voorts wil voorstel dat hulle elke week John Matshikiza se stuk in die Mail & Guardian lees.

Die onderwysdepartement het nog enkele intelligente persone oor, so my appél is sonder slag of stoot aanvaar.

Dankie, John!

Matshikiza is 1954 in Johannesburg gebore, maar hy het in Londen grootgeword.

John se pa, Todd, was ’n vermaarde jazzmusikant en –komponis. Todd Matshikiza het bekend geword met die blyspel King Kong.

Die jong John het dus baie blootstelling aan die teater gehad en het, in Londen, drama geswot. Daar het hy toneel gespeel en geregisseer. Later het hy ook by filmregie betrokke geraak. Vir ’n ruk lank het hy in die VSA gewoon en gewerk.

John was ’n goeie akteur en het in verskeie plaaslike, en oorsese, produksies gespeel (waaronder Cry Freedom en There’s a Zulu on my stoep). Hy het telkens staaltjies vertel van bekendes wat hy toe níé op die filmstel ontmoet het nie en was maar al te geneë om die ironiese, swart ekstra te speel. (Die locals, jy weet ...) (Ek is seker hy was ook in Hotel Rwanda.)

So het hy by geleentheid in groot kleur vertel hoe hy uitgesien het daarna om Angelina Jolie se lippe uit te toets ... sonder sukses, natuurlik.

John het ook Nederlands bemeester, en was klaarblyklik ook ’n direkteur van die Gorée Institute, waar Breyten Breytenbach nou betrokke is.

John Matshikiza kon dus Engels skryf.

0 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page