Laas met Jaco Kirsten se Om na ’n wit plafon te staar, het ek so lekker gelees aan ’n manlike teks.
Manne, koop Jacobus as jy borshare het.
Is daar ’n term soos DudeLit? Indien wel, kan Willem Krog se debuutwerk Jacobus, soos Kirsten se roman destyds, dalk die pad soheentoe aandui. Dudes sal beslis nie maklike pienk boekies lees nie, geensins. Die meeste mans lees juis nie-fiksie, want hulle het ’n kleintjie dood in tekste wat verbeeldingloos by hulle wêreld verbysweef. Daar moet egter ’n soort letterkunde wees wat mans sal aanstaan, en, hier is dit!
Jaco Kirsten het die wêreld van die man oopgeskryf, maar ook tong in die kies ondergrawe. Hy het dus ook, uit manlike kringe, pak gekry; tog was die meeste mans, wat nie bang is vir hulself nie, baie positief oor Kirsten se boek. En nou kom Krog en hy doen dit weer. Soos Kirsten se teks, loop ons hier die pad van ’n man wat skaamteloos man is, ’n man wat sy tiermelk sonder ys drink, maar ’n man wat ook weet waar die gevare in suiwer manlikheid lê.
Soos met Kirsten destyds, gaan dit mans wees wat hierdie boek gaan probeer stukkend trap, want soos closet-gays die grootste moffiebashers is, só sal mans, wat onseker is oor hulle manlikheid, hierdie teks ten alle koste wil swartsmeer.
Jacobus is boonop vrek interessant inmekaargesit. Dis ’n roman, maar die boek val in verskillende dele uiteen – amper soos ’n kortverhaalbundel. Dit is egter nie kortverhale nie, want elke liewe kamee speel in op die sentrale karakter; die Jacobus van die titel.
En tog, Jacobus is eintlik alomteenwoordig afwesig – ’n bietjie soos Bob Dylan destyds in die briljante film I am not there.
Moenie dat bogenoemde sin jou afsit nie, die boek lees glad nie moeilik nie. Om die waarheid te sê, dis ’n page turner as daar nou onlangs een was. Ek was die naweek op ’n plaas en het Saterdagaand vuurgemaak en aanhou lees tot ek klaar was – ek kon eenvoudig nie ophou nie (het net nou en dan opgestaan om nog hout op die kaggel te gooi).
Jaco, die sentrale karakter, leer op skool reeds dat die waarheid en moraliteit niks goeds inhou vir ’n mens se loopbaan nie. Kortom, die skool en die kerk leer hom as jy lieg is jy oukei; as jy bedrieg is jy gewild.
Sy hele lewe lank onderdruk hy dan die stemmetjie van rede en leef in die leun. Rondom om hom is daar egter ander karakters wat weier om in die leun te leef, en hulle tjop almal so op ’n manier af; deels omdat hulle telkens in Jaco, en ander wat wel in die leun leef, vasloop. Maar, elke hond kry sy dag en Jaco s’n kom uiteindelik ook.
Ek wil nie meer sê nie, behalwe dalk dit: Op die voorblad is ’n stapel lêers met die name Kosie, Jacques, Jacobson, Kobus, Jaco, en James. Hulle is natuurlik almal afleidings van die naam Jacobus. Die leser leer dan ook vir Kosie, Jacques, Jacobson, Kobus, Jaco en James ken in hierdie roman, en so leer ons vir Jacobus ken, want al daardie lêers hou verband met mekaar – en met Jaco, die hoofkarakter, se vermoë om te kan aanhou lieg.
Koop die boek. Lees dit. Gee dit vir die man in jou lewe.
Hierdie boek gaan pryse wen – veral as daar vroue op die keurpaneel sit, of mans wat nie bang is vir hul manlikheid nie.
Terloops: Daar is ’n boek van Robert Bly met die naam Iron John. Talle mense sê dis die manlike weergawe van Women who run with the wolves. Ek besit Iron John en vind dit interessant, maar ek sukkel soms om vat te kry aan manlikheid wat dit nie sigself bevraagteken nie. Beide Jaco Kirsten en Willem Krog kry dit reg om manlikheid te dekonstrueer – te midde van ’n viering van sekere aspekte daarvan; ek dink dis hoekom ek so mal is oor albei se tekste.
Vadersdag, nog iets waaraan ek ’n kleintjie dood het, kom klaarblyklik binnekort nader.
Jacobus is ’n geskenk vir ’n vader, of ’n toekomstige vader. Dis ’n blerrie lekker boek.
Ek is een van die laaste mans wat die vorige weermag in al sy glorie beleef het – kampe ook. Ek was daar, ek het die T-shirt gedra. Hierdie boek is vir my, en ander soos ek, geskryf, want ons weet dat daar harte was onder daardie bruin uniforms, breine in daardie staaldakke en jeukerige ballas wat net wou wegkom van ’n wêreld waar daar vir jou gedink word. Die army was die teelaarde van ’n sekere soort manlikheid wat die Kerk (hoofletter bedoel) en die Party (ditto) wou kweek. Tog het baie van ons die teendeel daar geleer van wat die Kerk en die Party sou wou hê. Vir ons is daar nou DudeLit soos Jacobus.
Maar lees self as jy nie bang is vir ’n spieël nie.
Kalahari.net het Jacobus tans op ’n spesiale aanbieding.
Robert Bly se Iron John is ook tans teen afslag beskikbaar, so ook Women Who Run with the Wolves: Myths and Stories of the Wild Woman Archetype deur Clarissa Pinkola Estes.
Sou julle belangstel in my resensie van Jaco Kirsten se Om na ’n wit plafon te staar, kliek hier.
Hier is bespreking van I’m not there; dit mag ook help om Jacobus te ontsluit.
Belangrike opmerking: Ek is altyd benoud om op hierdie blog te veel te sê oor boeke waarby ek professioneel betrokke is, maar ek kan openlik verklaar dat ek niks met hierdie boek te doene gehad nie (al werk ek vir die maatskappy). Ek het dit eers gelees toe dit reeds op die winkelrakke was. Martjie Bosman was die redakteur van hierdie teks, die lof kom dus uitsluitlik vir haar en Willem toe. Interessant, nie waar nie, dis ’n vrou wat nie bang was om vir Willem na die eindstreep te help nie.
Comentarios