top of page
Izak de Vries

Interrupting Henry

Ek kan julle nie sterk genoeg aanbeveel om Interrupting Henry te gaan kyk nie. Dit wys nog net tot 20 November in die Artscape, so gou spring.

Die teks, deur Myer Taub, is skreeusnaaks. Die regie (deur Matthew Wild) is uitsonderlik en die akteurs uit die heel boonste rakke. Ek is nou al goed ingeleef in die teater, so wanneer ’n stuk mý so meevoer dat ek die karakters as ménse begin ervaar, moet jy weet . . .

Werklik, gaan kyk. Dit is een van daardie stukke wat nog wêreldwyd gaan draai – ek kan sien hoe goed dit in die West End of op Broadway kan werk. Julle sal wil sê: “Ek het dit gesien voor dit wêreldberoemd geraak het.”

Maar waaroor gaan hierdie stuk waaroor ek so liries is? Hier is ’n opsomming:


Adrian Henry (totaal geloofwaardig – en waardig – vertolk deur Vaneshran Arumugam) wil ’n verskil maak, los sy pos in die rekenaarbedryf, gaan studeer T.I.E. (dis Teater in Education) en gaan werk in ’n tipiese staatskool.


Smith (skreeusnaaks vertolk deur Theresa Iglich), die vuurvreter-sekretaresse wat oor die dood goeie, goed dooie skoolhoof lóóp, lig Henry in dat hy nie sonder ’n T.I.E. om sy nek in die personeelkamer mag kom nie en blaas sommer gou sy wiele af oor al hierdie moderne snert: The King and I is die stuk wat sal werk, dankie.


Die skoolhoof (só goed vertolk deur Ivan Abrahams dat jy eenvoudig dit self moet sien) is inderdaad ’n tipiese oubaas wat wag dat die aftrede moet kom. Met ’n sterk sekretaresse agter hom moet hy bloot opdaag, sy voet gemoedelik stamp en sy teelepel in die koppie laat klingel wanneer hy wil aandag hê. Hy gaan nie Henry se warshede steun nie, maar is ook te lamsakkig om dit teen te staan.


Travis Snyders (puik vertolk deur die jong Zed Jacobs) is ’n verloopte kind wat oor naweke óf by die skool wegkruip, óf mans in kroeë optel. Wanneer Henry ’n hoop gay-pornografie in Snyders se bank ontdek, gee hy, half onbeholpe, Anne Frank se dagboek aan die jongman. En dit wérk. Snyders leef hom só in in Frank se lewe, dat hy ’n toneelstuk oor haar dagboek aan die gang kry en dan die hoofrol wil speel.


Elsa Brown (ontsettend geloofwaardig vertolk deur die beeldskone Julia Anastasopoulos) is die ander nuwe onnie en sý word betrek om die drama te maak werk.

Dink julle in wat gebeur as ’n swastika op die skool se verhoog verskyn en Travis Snyders net daarna in ’n rok presenteer. As julle dink dis snaaks, is julle absoluut reg: Gaan kyk self.

Tog, onder die klugtigheid wat soms na bo borrel, is daar ’n baie diep boodskap. Wat is die boodskap? Dalk dat ons almal maar liefde en aanvaarding soek. (Daar is ’n pragtige, teer liefdesverhaal ook in die stuk . . . )

Ek wil nie te veel weggee nie. Almal wat al ooit in ’n skool gewerk het, sal hierdie drama ontsettend veel geniet. Enige een wat al ooit Anne Frank se dagboek gelees het, sal net nog eens verstom staan hoe ver haar woorde se invloed ryk.

Dis elke sent werd – en ek het nog ’n glas rooiwyn ook gekoop by die kroegie – ’n lekker manier om ’n puik stuk te salueer.

As bogenoemde nog nie julle laat besluit het nie, kyk hierna: Die stel is ontwerp deur Angela Nemov. Wie? Al gehoor van Freshly Ground se “Chicken to Change?” (Dis op YouTube as jy dit nié ken nie.) Nemov was die video se regisseur. Al Freshly Ground se video van “Pot Belly” gesien? Nemov het die kunsregie gedoen.

Al Interrupting Henry gesien? Nog nie? Waarvoor wag jy?

Ek was daar saam met ’n klomp gay mans en daar was ’n kollektiewe “oe-hoe” toe die teatergangers die Arena betree. Nemov se stel is eenvoudig, maar werklik treffend. Die gewrigte het gewapper.

Toe ek oor The Night Doctor berig het, kon ek nie anders nie as om kritiek uit te spreek op die metastukke wat die gang van die stuk onderbreek het.

Interrupting Henry begin met ’n baie self-bewuste, gehoorgerigte monoloog. Ek dog toe: O gaats! Maar, helaas. Dit was heeltemal gepas – en die res van die stuk het baie goed gevloei. Die enkele metastukke wat wél elders ook voorgekom het, was so deksels goed gedoen dat jy nie anders kon as om dit geniet nie.

Bravo aan Taub se fyn aanvoeling vir die vloei van ’n stuk, en bravo vir Wild se puik regie.

Om ’n baie mooi aand te kroon, het Shaun Michau ’n klankbaan geskryf vir die stuk. Jip, dis nie net ’n visuele kragtoer nie, ouditief smokkel hulle ook met jou sinne.

Faheem Bardien se simpatieke beligting was slim, behulpsaam en kunstig.

Genoeg van my kant af. Julle sal nie spyt wees nie. Gaan ondersteun ons jong dramaturge. Dis lank nie meer ’n straf om ’n nuwe stuk te gaan kyk nie.

O, gaats. Ek gaan myself tog ’n naskrif veroorloof . . . Verlede week het ek ook die puik vertoning van Die Ryk Weduwee gaan kyk in die Klein Libertas. Dit was onder leiding van Juanita Swanepoel. (Elsabé Daneel was in die hoofrol.) Ek is daar weg met ’n warm gevoel oor die puik spelers wat ons in Suid-Afrika het.

Die meeste was hardebaarde en ’n mens kon dus amper niks minder as perfeksie van hulle verwag nie. Tog, dit was lekker om dit te beleef. (Die jong Stephanie Badenhorst, as die musiekjuffertjie, was die enigste groentjie, en ’n mens sou dit nie uit haar spel aflei nie.) Ná ek ’n paar aande later Interrupting Henry gaan kyk het, was ek nog eens trots om ’n Suid-Afrikaner te wees. Ons het puik talent.

Beide Die Ryk Weduwee en Interrupting Henry loop by tye in die kraal van die klug in – dít stel hoë eise aan die akteurs – veral as hulle kort daarna weer bitter ernstig moet wees.

Ondersteun ons plaaslike talent. Nie net vir hulle onthalwe nie, maar ook vir joune.

1 view

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page