Die rolpers is in Bloemfontein in een gekonsolideerde koerantegebou. Die redaksie kan daardie magtige masjien hoor dreun as hy spoed optel. Die trillinge laat die ink in ‘n koerantman (of –vrou) se are bruis.
Vername besoekers is in my tyd dikwels getrakteer met ‘n besoek aan die rolpers – die ongetwyfelde hoogtepunt van hul kennismaking met die binnekamers van ‘n koerant. As die gevlegte papier so vinnig koerantbladsye word en ‘n oondvars uitgawe so klaar gevou uitgespoeg raak, is uitroepe van verwondering dikwels gehoor.
Vir die meeste was die omvang van alles ‘n verstommende ontdekking.
Vir ‘n redakteur is dit ‘n voorreg om sy koerant by die rolpers te gaan haal. Jy vou hom net daar en dan oop en jou oë gly oor die bladsye. Jou reaksie is meesal een van vervulling. Soms voel jy om moord te pleeg as jou oog op ‘n fout val, of as met ‘n groot storie misgevat is.
Hoe groter die nuus, des te meer die sensasie (en ek gebuik die oorwerkte, misbruikte woord doelbewus hier in ‘n breër sin as sommige lesers wat dit so met stywe lippe kan uitsis ). In my albums is hope foto’s wat daar langs die rolpers geneem is met HvD, koerant in die hand. Talle scoops lewe voort agter die sellofaanbladsye .
Ook loopbaanbakens: die eerste Volksblad in kleur, die eerste Volksblad as oggendkoerant, die eerste Saterdagponie …
Volksblad (nie meer Die Volksblad nie) se redakteur het nou nog die vooreg van die rolpers byderhand. Min ander redakteurs het. Sommige koerantfabrieke is ver-ver van die redaksies en die bestuur in nywerheidsgebiede versteek. Daardie redaksies mis baie.
My intense genot aan ‘n publikasie warm van die pers is lankal verby. In 1992 is ek al Kaap toe – afgesonder in ‘n kantoor op die 18de verdieping, darem met ‘n mooi uitsig op Tafelberg.
Onlangs het ek ná lang wik en weeg die redakteurskap van ons beskeie kerkblaadjie. Visnet, op my skouers geneem – ek weet hoe ‘n irritasie puntenerige professionele koerantmense vir leraars, kerkrade en medewerkers kan word.
Mag ek nou maar, ná die tweede uitgawe, verklap dat die bloed steeds tintel as “my koerant” by Melkbos se Postnet van sy drukpersie kom? Kan nie ophou van voor tot agter blaai nie (net 12 bladsye A5).
Die nuwe uitgawe word Sondag by die kerk se deure uitgedeel en kom a.s. week op die gemeente se webblad. Sy voorblad (en agterblad) is geheel gewy aan volkleur- dekking van ‘n ambisieuse blommefees in die Pase.
“Kerk blom in Pase,” berig Visnet op die voorblad – met boonop blommefeesberigte op bladsye 4, 5, 6 en 12 – en die nuus dat nog ‘n groter blommefees in 2014 op pad is.
Glo my: Elke storie in Visnet bied ‘n element van dieselfde satisfaksie wat ‘n goeie storie in die dagblad gebied het – oor die kerkklokke wat weer beier 30 jaar nadat bureklagtes dit stil laat word het; oor die avonture van lidmate; oor die netjiese nissies wat nog teen ‘n winskoop op te raap is, die kopie van ‘n leeftyd as’t ware.
Een van die emeritusleraars wat in ons wyke kom nesskop het, ds. Jan Venter, was die eerste kapelaan wat verlof gekry het om saam met die troepe valskerm te spring. Hy vertel by sy 80ste verjaardag van Kasspirs en kerkwees.
Die hoofouderling, Danie Malan, is self iemand met ‘n onblusbare avontuurgees. Hy het al ‘n statiese lynvalskermsprong van 3 000 m gedoen. Hy is lief vir “white water rafting” op die Zambezi. Die hoogste wat hy ge-abseil het, is 40 meter.
Die gemeente se baas-rangskikker, Elna Smit, verklap hoe sy kleintyd tot aller-ontsteltenis nie die versoeking kon weerstaan nie om ‘n koningsprotea te gaps.
Mev. Skoon Melkbos, Blanché de Kock (met goeie rede so genoem), onderneem op Visnet se versoek ‘n inspieksietog deur die dorp en op sy uitgestrekte strande.
Dis alles in Visnet, en heelwat meer. Kry hom, lees hom – so wil ek die gemeente aanpor. Om ‘n redakteur te wees – dis mos Lewe.
Comments