top of page
Uitmelkbos

IN VINO VERITAS



IMG_3797

Op 74 klink dit ietwat verspot, maar laat ek maar bely dat my betrokkenheid by sogenaamde Nieman-konferensies enkele dekades gelede nogal entoesiasties was: hetsy by wyse van slimpraatjies of die uitbundige klink van glasies op alles en nog wat.

Deelnemers was die groepie SA joernaliste wat so bevoorreg was om as Nieman Fellows vir ‘n sabbatsjaar na Harvard in die VSA te gaan. My eie was in 1976/77. Ek was SA Nieman Fellow nommer 18 in ‘n tradisie wat in 1960 begin het. Johanna van Eeden was verlede jaar daar. Vanjaar word SA egter die eerste keer oorgeslaan. Vrees dat dit die einde van ‘n wonderlike era kan beteken.

In die groep was destyds (en is deesdae des te meer) die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek verteenwoordig – ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en soms driftige meningsverskil. Die gemeenskaplike koord was/is ons sentimentele herinneringe aan ons Harvard-ervaring.

Daardie herinneringe het ons in die jare 80 tradisioneel elke jaar op ‘n wegbreeknaweek in die boendoes gaan opskerp. Die hoogtepunt was ‘n formele dinee – ons almal in aandpakke uitgeklits. Van die kraakwit hemde het die volgende oggend “onverklaarbaar” wynspatsels vertoon. In vino veritas. Ander vreemde dinge het ook gebeur waaroor ek diplomaties ‘n sluier trek.

Hoe ook al, een van ons kuierplekke was die Wild Coast Sun. Toe ek nou in Oktober aan die Suidkus kom, kon dit nie hoër of laer nie. Ek moes Wild Coast Sun toe om op die ou spore te gaan loop en in stilligheid te peins oor jare en dinge wat, helaas, lank-lank verlede tyd is.

Op die foto’s is die uwe en wyle Tertius Myvburgh in ons aandpakke vroeg in die 80’s en die uwe , kierie in die hand, voor die kenmerkende struktuur van die flambojante casino-hotel met nou die dag se herbesoek 30 jaar later.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentarer


bottom of page