Kuier op Melkbos in 1995. Gross is naasregs, langs Tokkie. Ander kollegas op die foto is George Boshoff, Andrew Marais, Salie de Swardt en Ben van Rensburg. –
Plat op die vloer omring deur molshopies papiere met ‘n duisternis syfertjies in talryke kolomme. Hoeveel keer het ek Gross (Johannes Grosskopf) in die uitdagende beginjare van die nuut gestigte dagblad Beeld nie in die redakteurskantoor so aangetref nie?
Die toegewyde redakteur kon eenvoudig nie glo hoe die nuwe koerant se sirkulasie so vasval nie. Al was dit nie sy werk nie, het hy dag vir dag, Peter Stuyvesant in die hand en met ‘n frons op die hoë voorkop gekeep, die syfers gefynkam. Hy was oortuig iewers in daardie kolommetjies moes die geheim van mislukking versteek wees.
Deels was Gross op die regte spoor. Beeld se eie bemarkingspoging was nie juis die toonbeeld van doeltreffendheid nie, moet ‘n mens toegee. Die oplossing was egter nie net in verbeeldingryker bemarking nie. Ook nie in redaksionele kwaliteit nie. Verreweg nie. Die kritieke faktor, sonder enige twyfel, was die lustige knoeiery met sirkulasiesyfers by die mededinger, Die Transvaler. Pakke Transvalers is middernagtelik reguit van die rolpers na verlate mynskagte aangery ten einde ‘n spook-sirkulasie in stand te hou, is later onthul.
Met die 86-jarige Gross se dood op Stellenboch stu die bitterheid oor die skaamtelose bedrog, wat as “Syferfontein” bekend was, weer in ‘n mens op. Elke liewe redaksielid van Beeld is daardeur pynlik getref. Ons was bitterlik lief vir ons koerant en het ons harte in elke uitgawe gestort. Elkeen, ook ek, het meermale hand in eie boesem gesteek oor ons eie bydraes – of dit gebrekkig was. Niemand is egter dieper in die hart gewond as Johannes Grosskopf nie.
Hy was die een wat van Beeld se eerste dag, 16 September 1974, af maar die spit moes afbyt. Die hoofredakteur, Schalk Pienaar, een van die grotes in die Afrikaanse persgeskiedenis, se vlerke was toe reeds weens ‘n aftakelende siekte geknip. Uiteindelik, ná al die inspanning, het Gross, gestroop van sy redakteurskap, as die Pers se verteenwoordiger in Washington beland. Hy is die sondebok gemaak vir die vernedering en verliese wat die Nasionale Pers in Johannesburg op die lyf geloop het.
Toe die volle sak patats oor Perskor se konkelwerk in 1980 uitgeskud word en Die Transvaler stert tussen die bene die aftog blaas, was die feesvieringe by die hele Nasionale Pers groot. Gross moes dit maar van ver dophou. Die soet smaak van die triomf was hom nie beskore nie – al is dit inderdaad reeds in sy tyd behaal.
Met “Mnr. Grosskopf” het ek in die 60’s in Bloemfontein kennis gemaak in ‘n vlugtige skof daar voordat hy met die stigting van die Sondagkoerant Die Beeld in 1965 Rand toe is. ‘n Heilige respek vir sy skerp intellek het dadelik ontwikkel. Aan die voete van hierdie Gamaliël uit die Kaap het ek ‘n ongesonde neiging tot mooiskrywery vinnig afgeskud. Op verskeie rondreise agter dr. H.F. Verwoerd aan – van Vryburg tot Klerksdorp – het hy my politieke verslaggewing help slyp.
In April 1974 het ons twee die voorhoede gevorm van die Beeld-intog in Johannesburg. Die jong nuusredakteur uit Bloemfontein het saam met sy redakteur in die Old Arcadegebou in Markstraat, Johannesburg, ingetrek. Ons moes ‘n redaksie kry, strategie uitwerk en ‘n duisternis ander voorbereidsels tref. Dit was ‘n opwindende taak, wat ook naweke by die Grosskopf-huis in Linden oor ‘n glasie rooiwyn of twee voortgesit is.
Daar het ek dié fyn gesin werklik leer ken en waardeer: Santie, ‘n knap joernalis uit eie reg, Ernst, Annemarie, Riël en Hein, die jongste. Ek het my verwonder aan die openheid en hoë vlak van gesprekvoering tussen ouers en kinders – iets wat ek nie geken het nie.
Ná ons intrek in die hartjie van die winter in die lelike, onvoltooide Beeldgebou oorkant Ellispark se tennisbane het Gross hom uit die staanspoor onderskei as ‘n metodiese raakvat-vakman wat hom oral en op elke terrein deeglik laat geld het. Hy het aan sy span hoë eise gestel. Uit bewondering en geneentheid teenoor die kaptein is die uitdaging begeesterd aanvaar.
Sy latere hoofartikels en rubrieke was helder, skerpsinnig en rigtinggewend. Sy sin vir nuus en vir die kreatiewe aanbieding daarvan was suiwer. Een van sy gebruike as redakteur was om ‘n beknopte oorsig oor die vorige dag se koerant vir die redaksie te gee: welke berigte goed hanteer is, waar bykomende aspekte uitgelig kon word, waarmee mededingers Beeld geklop het, welke stories beter aangebied kon word en waarom hy so dink. Vir my was daardie daaglikse dosis pluimpies en kritiek uit die redakteur se kantoor so waardevol dat ek dit later, sonder erkenning, ook deel van my eie arsenaal gemaak het.
Die woorde “sonder erkenning” spook by my, ook om ‘n ander, diepliggender, rede. ‘n Terugkerende kwelvraag is of Gross selfs net naastenby die eer gekry het wat hom toekom vir sy enorme rol in Beeld se langsame vestigingstryd. Nou, by sy dood, knaag die vraag opnuut en met mening.
Deels kan die verloop van sake natuurlik op Perskor se brood gesmeer word, maar ook net deels. Ongelukkig bestaan ook rede tot selfondersoek by kollegas soos ekself wat in hul vorming as joernaliste, en mense, soveel uit die geniale mentor se hand ontvang het. Maar ons, wat het ons op ons beurt gedoen om ons verskuldigde dankbaarheid te betoon?
–
Comentários