top of page
Uitmelkbos

In die kol

Toe ek sien dat Sonja Loots die resensent is van Ryk Hattingh se Huilboek (Rapport Boeke), was ek ek bly sonder dat ek eens die bespreking gelees het. Ek het die roman pas klaargehad op my Kindle, en op ’n eiland gesit en huil. Ken dié heimwee.

Loots is nie iemand wat die drempels van boekeblaaie deurtrap nie; sy is ’n skrywer wat oënskynlik net resensent word wanneer sy regtig voel die boek is die moeite werd. Dit is ’n uitmuntende keuse deur die boekredakteur – Huilboek is ’n werk wat bespreek moet word deur iemand wat die stryd en spel met woorde en gedagtes van binne-uit ken. Soos Sonja Loots.

Die groot probleem wat sy as resensent moes aanspreek, is hoe mens ’n roman takel wat nie juis ’n ingewikkelde verhaal het nie, maar ’n baie groot homp geskiedenis, persoonlik en andersins, in twee lande betrek.

Sy neem uit die staanspoor in ag dat Hattingh wil bestek neem van ’n paar mense se plek in die groter geheel: Hoe verskil mense se rolle, en wat rig hulle uit met hul lewens. Loots gee nie ’n samevatting van die verhaal nie, sy lig eerder die kern-gedeeltes uit, en trek die verbande.

Haar slotsom kan mens beaam: Die boek is diep ontroerend. En Loots se laaste opmerking, in gedempte toon, is die boek waardig. Mens hoef nie te skree as jy wil lof toeswaai nie.

Naas Loots se resensie is Daniel Hugo syne oor Breyten Breytenbach se jongste bundel, Die na-dood.Toe ek dit klaargelees het, het ek gevoel dis nou genoeg: Ek het die beste beleef wat Rapport Boeke ons in baie jare op een Sondag kon bied.

Dit is altyd interessant om te sien hoe een digter op ’n ander se werk reageer. Dit is ongelukkig ook so dat nie alle digters goeie resensente is nie. Maar Hugo is een van die bestes, oor digkuns.

Sy resensie is tegelyk ’n taksering van Breytenbach en ’n opgaaf van sy vervoering. Dít is wat so baie resensies mis, naamlik die resensent se werklike, diepgevoelde reaksie. Hugo weet hoe om dit te verwoord sonder om soos ’n rasieleier te klink, en al wat hy wil doen is om deur sy reaksie ons almal baie nuuskierig te maak.

Die resensent is ook baie bewus van Breytenbach se onlangse taal-politieke standpunte, en vind ’n baie mooi manier om sy steun aan die digter toe te sê én die resensie te sluit.

Dankie, suster en broeder.

Marius Crous bespreek op dieselfde dag Heilna du Plooy se Die taal van been in Rapport Boeke. Dit is ’n resensie met heelwat verdienste – en een plek waar hy homself in die steek gelaat het.

Hy haal Du Plooy se waarskuwing vooraf aan dat “Hierdie verhaal is fiktief, en tog is dit die waarheid gelieg” maar sien nie raak dat hy dit hier te make het met een van die sleutels tot Du Plooy se kuns nie. Ek dink hier aan haar 1995-artikel oor TT Cloete se kortverhaal-bundel Die waarheid gelieg, wat in die tydskrif Literator verskyn het. Van die dinge wat sy daarin sê oor Cloete se skryfwerk en sy aansluiting by Kafka en Borges, kan ook oor haar en Cloete, en haar en Isak Dinesen (wie se werk sy in hierdie roman verweef) van toepassing gemaak word.

’n Verspeelde kans miskien, maar soos gesê het die res van die resensie baie substansie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page