Oubaas Flentergat het weer eens ’n wonderlike stuk geskryf – die keer oor die Waterkloof-Vier. Lees dit gerus self, ek kan nie reg daaraan laat geskied deur dit te wil opsom nie.
Mý kyk op die vier is meer persoonlik. Ek en Knaap was gisteraand by Kassie-hulle. Die twee laaities raak toe aan die speel en ou Kassie gooi vir hom so lange, soos hy maak as hy wil filosofeer.
“Ek dink nogal aan die Waterkloof-kinders se ouers,” sê hy.
En net daar is sy vrou toe op haar perdjie. Sy het nie veel simpatie nie. Wat haar betref is dit bog dat ryk mense nie tronkstraf kry nie. “Sou Fred van der Vyver vandag vry gewees het as sy pa ’n arm spoorwegwerker was?”
Moenie ’n fout maak nie. Sy was baie bly toe Mark Scott-Crossley se skuldigbevinding op moord teruggetrek is. Kassie se vrou is passievol oor die gereg en doen baie vir die gemeenskap. Sy het self al rowwe sake verdedig, maar sy pes dit as ryk mense se geld vir hulle vryheid koop terwyl armes tronk toe gaan vir veel langer as die Waterklofers, en dít vir ’n mindere klag.
Iewers in haar betoog kom die twee seuntjies gillend ingehardloop, en toe verdwyn hulle weer. En dis waar ek toe met Kassie saamstem. Ek sal nie wil dat my seun eendag so iets oorkom nie. Ek is te lief vir hom.
Comentários