top of page
Uitmelkbos

HULDE AAN “NANCY O”

My hulde vandag by die viering van kollega Nancy Oosthuysen se lewe by die Durbanville-gedenkpark:

“Nancy was Jan se vrou Nance, sy was Marina en Elsabe se ma Nancy, sy was Fred se skoonma Nancy, sy was Lexi en Christian se ouma Nancy. Sy was ook die Volksblad-familie se kollega Nancy. So deel van die koerant, soos ink en papier, soos Nissa Vosloo dit sekuur stel. Opregte waardering dus vir die uitnodiging om haar vandag ook uit hierdie perspektief – die pers-perspektief – met ‘n laaste eresaluut te vereer.

“Hoekom heg ons koerantgarde aan Nancy Oosthuysen soveel waarde? Natuurlik oor ‘n marathon-loopbaan vol onderskeidings. Sy het net bly inploeg en inploeg, al doer uit die jare 50. Ons eer haar ook vir iets anders: haar magnetiese manier om in almal se harte te kruip. Sy was ons kameraad. ‘n Rotsvaste steunpilaar. ‘n Warm uitreik-mens wat jou altyd sommer net laat voel het: die ondermaanse is darem ‘n gawe plek om te vertoef!

“Nà ‘n skof van meer as 30 jaar se uitblinker-diens onder die Volksblad-sambreel het Nancy in 1996 afgetree. Op 2 Mei 1996 het ek uit die Kaap vir haar in ‘n brief geskryf: “Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie in ‘n warm stoel in die subkantoor nie.” Ek het bygevoeg, en ek haal net twee of drie paragrawe aan (want Nancy was nooit lief vir lang gedermtes en lastige oorlope nie!):

“ ‘Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot sy hoogtes vandag. ‘n Mens wens jy kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (vir die oningewydes: dis opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy … (hierdie is belangrik) … ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het.

“‘Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens bied. Ons groet ‘n kollega soos min – klein van gestalte maar groot van formaat.’

“Amper ‘n kwarteeu het verloop. As ek vandag vir Nancy weer ‘n tot-siens-brief moes skryf, sou ek vrymoedig alles in daardie skrywe van Mei 1996 kon herhaal. ‘n Sterk naskrif sal egter moet bykom.

“Ja, inderdaad, Nancy O – my kodenaam vir haar – was knap, dinamies, lojaal, propvol idees, deurgaans hardwerkend, pligsgetrou, kordaat, ferm en verbind tot kwaliteit – “alles wat ‘n mens van ‘n joernalis kan verwag”, soos ek in Media24 aan haar hulde gebring het. Maar Nancy was meer as net die somtotaal van hierdie lys voortreflikhede.

“Sy was ook ‘n uiters meelewende mens. Al was sy amper al 25 jaar uit die tuig en volgens woordeboek-definisie ‘n veteraan, het haar belangstelling in die koerant en sy mense – háár ander familie – nooit verflou nie. Die wel en wee van ‘n tros waarderende oud-kollegas – jonk en oud – het sy tot die einde met deernis op die hart gedra. Selfs kinders en kleinkinders van kollegas het sy gekoester.

“n Tydgenoot, die letterkundige Jaap Steyn, ‘n verbete vrygesel, het haar in sy boek “Sonkyker” beskryf as “beeldskoon” en “immergroen”. Die liewe Jaap kon, terloops, gerus eienskappe soos “sprankelend”, “stralend”, “pikant” en “sjarmant” bygevoeg het, maar uit die lierwe kollega se mond kom, bygesệ, nie dikwels romantiese vleitaal nie.

“Ek leen by hom die beskrywing “immergroen” Nancy was een van daardie immergroen-mense met soveel energie, lewensdrif en hartlikheid (soms ook ‘n tikkie ondeundheid en parmantigheid!) dat jy vermoed het sy het die geheim ontrafel om vir altyd jonk en fleurig te bly. Helaas bly daardie geheim onontrafel en ‘n ewige jeug ‘n onbereikbare droom. Die sware dag het onvermydelik aangebreek. Op ouderdom 84 moet ons ons swaargewig-buks vir oulaas groet.

“Verskeie generasies is by hierdie gelentheid verenig daarin dat die vlag in hul harte uit liefde en respek halfstok hang. Dit sal vir lank nie weer vrolik kan wapper nie”.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page