Humilissima of Superbissima? Nederigste of Trotsste?
Valletta, hoofstad van die eiland Malta, is gedoop Humilissima Civitas Valletta – die Nederigste Stad van Valletta. ‘n Latere Europese bynaam is Superbissima – die Trotsste stad.
Glo my, hierdie klassieke stad het min om oor nederig te wees. Die onmiddellike impak is geweldig. Die indrukwekkende stadsmure, fasades, sierlike kerke (‘n hele 400) en waardige Barokpaleisse uit geel sandsteen gee daaraan ‘n byna onaardse skoonheid. Die manjifieke hawe, tereg bekend as die Grand Harbour, is moontlik die skilderagtigste wat ek in my 74 jaar gesien het – en ek vergeet nie van Sydney nie.
Valletta (plaaslike bekend as Il-Belt – Die Stad) dateer uit die 16de eeu en is niks minder nie as ‘n treffende buitelug-museum, wat ‘n spieëlbeeld van die strategiese vlootbasis se turbulente geskiedenis van 7 000 jaar dinamies by die vlugtige besoeker tuisbring. Nie verrassend nie is Valletta in 1980 tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Die Europese Unie pomp multimiljoene in om sy glorie ten volle te herstel. Al is Malta maar klein, slaan die EU die land hoog aan as een van sy kroonjuwele.
Ons skip was net enkele ure in die Grand Harbour. ‘n Panoramiese eilandtoer van amper vier uur saam met die innemende gids Laura was egter oorrompelend. Malta in sy geheel verower die bekoorde besoeker se hart en verstand, soos die klein eilandstaatjie sedert die Ridders van St. John telkens voor nuwe veroweraars die knie moes buig.
Jy kyk na jou foto’s van die ou vestingstad Vittoriosa met sy diep spore van die toentertydse ridderordes af; die ouwêreldse waterkant; die skitterende seiljaghawe; die sjarmante vissersdorpie Marsaxlokk met sy helderkleurige bootjies en geverfde ogies (om die gevare ta kan “sien”); die natuurskone Blougrotte plus soveel meer – en jy is stomgeslaan oor die magdom indrukke wat in een kort oggend by jou ingeprent is.
Jy sou graag na Malta en Valletta wou terugkom, sê jy vir jouself. Jy sal langer wou bly, dieper wou delf en sommer net die atmosfeer en karakter (asook die milde klimaat en vars seekos) kom geniet. Die Engelse praat van “ambiénce”. Dit is wat Valletta in oorvloed het.
Nie al die indrukke kan op kamera verewig word nie. So ‘n indruk is dié van ‘n klein landjie met ‘n groot hart; ‘n plek wat met intense nasionale trots en toewyding sy pyn verwerk het – ook die nare letsels van die Tweede Wêreldoorlog. Die uitdagings wat telkens die staal van die Maltesers tot die uiterste getoets het, het sigbaar ‘n bron van inspirasie geword.
In jou eie land word beelde bestorm. Daar word elke veroweraar se nalatenskap in ere gehou – buiten dié van die Franse, laat val Laura. Dié het al hul kunsskatte na Parys weggedra!
Die bus is tjoepstil terwyl Laura vertel. Haar passie is aansteeklik. ‘n Prentjie ontvou van waardes waarmee jy jou gemaklik sou kon vereenselwig. Die mense is hardwerkend – werkloosheid is onder 5% en dit is “net diegene wat baie lui is”, se Laura. Die mense is ondernemend – van die gruisgroewe wat die sandsteen verskaf, word elke sentimeter vir nuwe wingerde of turksvylande herwin en in 2014 is E87 miljoen se tuna uit hul visplase na Japan uitgevoer vir sushi. Onderwys geniet hoë voorkeur – jong mense kry sakgeld van E90 ‘n maand om hulle aan te moedig om te studeer.
Dissiplines word sterk afgedwing. Streng reëls geld oor rommelverwydering en kwaai boetes is jou voorland as jy skeeftrap. Vir skoolmeisies is enige grimering of tatoes taboe. Eers as hulle 16 is, kan hulle doen wat hulle wil. Teen daardie tyd is ‘n kultuur van gesonde behoudendheid by die meeste deeglik gevestig.
Die natuurlike kleure van sagte sandsteen is oorheersend. Net die toegeboude balkonne – ‘n kenmerkende styl in Malta – vertoon spatsels kleur. Oral val die netheid op. In die woonbuurte wedywer die eienaars eintlik met mekaar, hoor ons. Die gesteldheid op orde is klaarblyklik ‘n nasionale deug.
Malta is ‘n model-demokrasie met twee partye, die Nasionaliste en die Arbeiders, wat feitlik ewe sterk is. Weens die Engelse skoolstelsel is almal tweetalig. Syself weet nie of sy in haar eie taal, Maltees, of in Engels droom nie, sê Laura.
Toe die Opera stadig uit die hawe vaar, sien ek rye mense op balkonne staan en wuif. Die Maltesers is dus boonop wellewend en vriendelik.
Dis nie moeilik nie om aan Laura se pleidooi te voldoen: Gaan vertel vir ander van Malta dat hulle ook kom en ons ekonomie versterk. Wonder net of ek regtig hier aan Malta reg laat geskied het. My woorde lyk skielik bra valerig teenoor die werklikheid.
Kommentare