Wonder waar ek sal begin as ek soos Murray la Vita Saterdag in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger begin lysie maak waarvan ek hou. Waar sal ek ophou? Dalk is die beste om jou nie deur die speletjie te laat meesleur nie. Ek kon die versoeking nie weerstaan nie. Hier gaan ons:
Ek hou van kampvure, kleinkinders, vleis op die kole, sambokpeule in blom, sonsondergange op Melkbos, Amerikaanse motors van die 50’s, P.G. se “Fees van die Ongenooides”, die Nonnekoor uit Casanova van Strauss, nagapies, biltong, klein rooibokkies, stoepe, pap en wors.
Afrikaans, die roep van ‘n visarend, my foto’s, my kierie, kommentaartjies op Fb, koerante (natuurlik!), Sophia Loren, bootvaarte, Harvard, Kollegetehuis, Amerika. Merano (Suid-Tirool), Verdi se operas, roereier, koue witwyn, my ou Honda CR-V, ou vriende, piekniek, slim woordspelings.
Die branders se dreun voor ‘n storm, my Canonkamera, die Queen Mary 2, Google, olifante, rustigheid, Sabierivier, ou klere, praat voor ‘n gehoor, soetpatats, George Beverley Shea, ‘n groot bad, Jesaja 55 (Almal wat dors het, kom na die waters), P.G. Wodehouse, die radio, die brul van ‘n leeu, my vrou se se rooi Mercedes, lekker bure, reën op die dak.
Buffelsbaai, vlytigheid, die Krugerwildtuin, Eugene Marais se “Dans van die Reën”, Rolene Strauss, nostalgie, Weskus se seereuk, vis en tjips, U Eie Keuse, hardekool, Burl Ives, dissipline, swartwitpense, Balule, Bloedriviermoument, Mozart, Gone with the wind, Die Volksblad, Chad le Clos.
Die troupant, Thabo Mbeki, die Namibwoestyn, Nana Mouskouri, Sydney, die duet van ‘n bosveldvanger en ‘n vleiloerie wat saam die reën roep, grasdakke, herfs, Langenhoven, Gary Player, Kallie Knoetze, Bakkies Botha, die Blou Bulle, waatlemoen.
Varknek in ‘n Weber, spotprente, Dubrovnik, deuntjies van die 50’s, seekosrestaurants, Potch-Volkies, sjokoladekoek, Karen Muir, kollegas, Lance Klusener, wi-fi, humor, southappies, brandewyn en gemmerlim.
Berge, donderweer, die bloukuifloerie, A.B. de Villiers se kolfwerk, ferweel, ‘n harde kussing, kussing, vonkelwyn, embuia, groot bome, Tsjaikofski se klavierkonsert nommer een, die Groot Verseboek, roomys, rugby, die bosveld, ‘n predikant in ‘n toga, gewyde orrelmusiek, spitsvondigheid, entoesiasme.
James Hadley Chase, A.G. Visser, vars bruinbrood, appelkooskonfyt, gebraaide skaapboud en aartappels, 18de variasie uit ‘n rapsodie op ‘n tema van Paganini van Rachmaninoff (“Soetmelksvlei-serenade”) , Die Verraaiers (die rolprent), Marius Weyers, vis en tjips, Graeme Pollock, Herman le Roux se einde-van-die-jaar-lys van sportmanne wat dood is.
Johan van Wyk se rubrieke, vetkoek met maalvleis, I believe (Frankie Laine), Tafelberg, Trafalgarplein (Londen), Weskuspark se veldblomme, Psalm 8 (Wat is die mens?) , John Wayne, oulike jongmense, Sabiepark se swembadjie in die somer, Jamie Uys, Debbie Reynolds, ‘n luiperd in ‘n boom, Hennie Muller, my vrou in rooi getooi ….
Veels te veel om op te noem.
(‘n Versie oor rooi: Kersie, granaat en ryp waatlemoen/rooi bly n kleur wat iets aan jou doen/ tooi jou in rooi, my rooibloedvrou/ om my vir altyd aan jou voete te hou!)
コメント