Die oudste boek of twee is my huidige leesstof as ek en Tokkie ná die aand se braai bedwaarts keer – so teen 19:30 se kant! Ek verkneukel my aan die herinneringe wat opborrel. Interessant is hoe dieselfde temas herhaaldelik opduik, al is dit net breedweg.
Olifante by die piekniekplek het Sondag weer vir ‘n hoogtepunt gesorg. Seker 20 plus het uit die bosse gekom. ‘n Hele klomp is vinnig oor die water na die groener gras aan die ander kant van die Sabie. (As my olifantfoto nie by is nie, is dit weens tegniese goggas.)
Buffels was vanoggend weer daar in ‘n groot trop, ylerig versprei maar steeds indrukwekkend.
Sebras by die watergat is weer ‘n gereelde vakansieplesier. Sondagoggend het 11 kom drink. Die middag het ons, soos soveel keer tevore, sebras en hul kleintjies skadu sien soek op nommer 231 se stoepe.
Hiënas hoor ons weer elke aand. Gisteraand het Tokkie een hoor water opslurp – ‘n slordige drinker, soos my vriend Manie Steyn hom sou noem. Toe sy naderstaan, sien sy net: Woerts, daar trek hy.
Nagapies en bosnagape is weer elke aand op die voorstoep bedrywig. Wonder wat die een so verskrik het? Hy is met ‘n vaart op die stoepmuurtjie by ons verby, al systappend om Tokkie se wynglas en skreeuend soos ‘n maervark. Toe gaan sit hy op die motor-afdak en weeklaag sonder ophou. Slang gewees?
Kerkritte Skukuza toe verloop met die gewone verwagtinge . Sondag s’n het o.m. twee renosters (met horings) opgelewer. Het hulle amper misgekyk in die digte bos. ‘n Vriendelike Stellenbosse nooi het gelukkig die verskuilde diere uitgewys.
Die watervoël-lewe by Lake Panic is weer prima. Gaan weldra ‘n blog opsit oor die middag van die reiers. Vriende en familie kom kuier weer, soos in die verlede. Vrydagaand kom Skukuza se herderspaar. Die naweek van 14 Julie kom ‘n span studentemaats. Ons ruk van Sabiepark op Balule toe. Daarna kom ‘n kollega, daarna my broer-hulle uit Pretoria.
Met die jaarvergadering ophande is weer lewe in die huishoudelike politiek. Ek staan volgens ‘n (nuwe) eie goue reël van die politiekery opsy – al het ek, strydig met my vaste voornemens – wel weer ‘n paar potjies met die kantoor geloop. Dié keer oor o.m. die koste van drukwerk en ‘n verkeerde rekening.
Kortom, Sabiepark is hierdie vakansie opnuut, soos altyd, ‘n heerlikheid wat anders as lekker spys en drank nooit opraak nie.
(Naskrif: So van spys en drank gepraat: Die uwe drink deesdae (soos ‘n pure Hollander) meer jenewer en minder wyn op Sabiepark se stoep. Die wyn se swaelinhoud is skielik gif vir die bejaarde gestel. En ek moet darem spog met ons eerste spanpoging tot ’n kolepastei (sogenaamde “braai pie”) gisteraand: ‘n Deegkors gevul met fyn hoender, sampioen en verkeie ander heerlikhede. Gewig, o gewig wat so baie kan dra!)
Comments