top of page
Uitmelkbos

HET KOFFER, AL WEER OP RYS


IMG_9214

Op pad Skukuza toe met haar “rystas”

Met Melkbos se gewilde kerkbasaar ophande (ek het nog geleer “ophande” is een woord) tref die omvang en verskeidenheid van die kostafels by die basaar hierdie lekkerbek opnuut.

Daar is groot koeke, klein koekies, vetkoeke en pannekoeke. (Wees gerus, dames, ek gaan nie die ou grappie afstof van die leraar se faux pas  oor wie wie uitgestof het nie).

Daar is ook beskuit, pasteie, koesisters, poeding, kerrie en rys, braaivleis en sosaties,  potjiekos, rou vleis en wors … soms vars groente uit die tuin.

By elke tafel staan ‘n span mense reg. Dikwels is dit dieselle ou gesigte jaar na jaar.   Een keer ‘n grootkoekvrou, altyd ‘n grootkoevrou as’t ware.

Tokkie is al jare ingetrek by kerrie en rys. As ons wintermaande in Sabiepark is, kook sy op haar beskeie twee plaatjies rys vir die eerste span met die oog op die Skukuza-halfmarathon, altyd die eerste Saterdag van Augustus. Die Skukuzagemeente vat die leisels met die kerrie en rys.

Vanjaar moes TvD dertig koppies rys kook. Al manier wat sy die vrag rys by die bestemming in die Skukuza-personeeldorp kon kry, was ‘n koffer op wiele.  Dit het aanleiding gegee tot die grappie van haar rys-tas (letterlik).

Ons was pas terug op Melkbos toe die verwagte oproep van Letricia van Niekerk kom.  “Tokkie, sal jy weer kom help?” Ek dink dis nou ook die derde keer dat sy hier op “rys” gaan – nes by Skukuza.   

 Toe sy vroer jare nog rondbweeg het tussen die basaartafels, het ek die volgende kerkbasaar-versie geskryf (dis in “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof”):   My vrou is in die poeding/laas jaar was sy in koek/wonder waarin ek haar nog/by ‘n kerkbasaar moet soek.

 My bron van inspirasie is duidelik: My nooi is in ‘n nartjie ….. Dankie D.J. Opperman.

 Vandat sy ‘n kerrie-en-rys-meisie geword het, hoef ek natuurlik nie meer van produk tot produk te soek nie.  Ek hou verby die poedings, koek en wat nog reguit kerrie en rys toe met my R25 in my hand.  

 Vir die nuwe situasie het ek weer by Opperman gaan leen vir ‘n nuwe versie: Een vrou is in ‘n nartjie

‘n Ander in anys,

My eie vrou is tuis

in kerrie en in rys.

 Jammer, diegene wat die ou versietjie al op Facebook gesien het. Onthou in elk geval: Melkbos se basaar is op Vrydag 25 Oktober.

 Sien julle by die kerrie en rys! Dis immers vir ‘n goeie saak.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


bottom of page