Cappucinno op die Musica.
Waar die Adriatiese kus van Montenegro en Kroasië ons voete op MSC Musica se vaart na Europa met sy natuurskoon onder ons uitgeslaan het, het die weldaad van twee wildvreemde Britte dit met hul ruimhartigheid gedoen. Ons het langs die swembad, een van drie, oor ‘n koppie tee met die twee, Garry en Christine Cornell van Hayling Island, Hampshire, aan die gesels geraak. Ek bekla toe my lot oor ‘n selfoon wat ondanks voorsorg en die beloftes van die diensverskaffer geen sein wou optel nie.
Ek bemerk Garry loer vir Christine en Christine loer vir Garry. Die volgende oomblik verras die twee my met hul gulle aanbod. ‘n Internetdiens is deel van hul toerpakket maar hulle gebruik dit nie. Ek kan dit met plesier kry as ek wil. Vinnig-vinnig is die MSCMusicahotspot gevind en verbind. Van daardie oomblik is my alias Garry Cornell. Skakel ek die rekenaar aan, groet Google my met ‘n “Hello, Hennie”. Gaan ek na die Musica-toep is dit: “Hello, Garry”.
Hoop nie enige bedrog of verwante misdryf is gepleeg nie, maar glo darem nie so nie. Garry het immers vir die diens betaal. Die uwe het net die toestel verskaf – uit die goedheid van sy hart! Later stel ons vas dit is die dag, Donderdag 2 Mei, Christine se verjaardag. Aan wyn sit die twee Cornells nie hul monde nie, maar ons het die verjaardag darem met sterk Italiaanse cappucinno gevier. Vir haar volgende verjaardag gaan ek vir haar ’n eksemplaar van ‘n beoogde reisboekie Hampshire toe pos met ‘n vertaling van die relevante paragrawe. “Watch your mail box, Christine!”
Cappucinno met die Cornells het ‘n instelling geword. Gewoonlik is dit die een wat verjaar wat die geskenk kry. Die ander kry koffie en koek. Hier het dit net mooi andersom gewerk – tot ewigdurende voordeel vir die ontvanger se lewenslange sug na kommunikasie met die buitewệreld. Hoop Christine sal die Bybelse woord oorvloedig beleef dat dit beter is om te gee as om te ontvang!
Met die leer ken van mekaar hoor ek die storie dat Garry se Amerikaanse oupa se broer (of een) ‘n Amerikaanse slaaf was in diens van die beroemde Amerikaanse sirkusmaatskappy Barnums. Hy het teen elke moontlike teenstander geboks. Die van Cornell het hy sommer by die Amerikaanse universiteit met die naam gegaps. Op ‘n besoek aan Londen het hy Barnums se stof van sy voete geskud en ‘n gedekoreerde Britse weermagheld geword. Sy storie word nou verfilm. My alias is nie van hier nie!
Kommentare