Gister moes ek weer iets doen wat my hartjie breek. ’n Man uit midde-Afrika bring gisteroggend vir my sewe foto’s en vra ek moet hulle asseblief skandeer en vir hom op skyf sit. Die een hier is my vrou. Dit is my eersgeborene. En hier is my jongste. En dis die ander twee seuntjies.
Vroulief is beeldskoon. Nommer een is duidelik skrander, want sy wen ’n prys op die een foto. En kleinman fris en kontant. Hy het 4.2 geweeg by geboorte.
Ek beloof toe om ná werk dit vir hom te doen en vanoggend weer terug te gee. Sommer die wit- en swartpunte ook reggestel, kontras gedoen en die merkies op die fotos, al stukkend gevat, skoongemaak. Soos mens mos maar doen vir ’n professionele kliënt, behalwe dat hy natuurlik nie sal betaal kan nie. Daarom doen ek dit gratis.
Maar tog. Ek kon vir hom sewe foto’s op skyf sit.
Dis wat hy het. Sewe foto’s.
Daar is min goed wat ’n mens so diep raak soos kinders. Selfs van my baie goeie vriende wat nie kinders het nie, doen dikwels baie moeite om die kinders in die vriendekring ter wille te wees.
Ek sou nie kon werk waar ek nie my kind kan sien grootword nie.
Die gebroke hartjie in die foto is juis ’n skepping deur Knaap. Hier in die vakansie het hy en maatjies gliserienseep gesmelt, gegeur en gekleur (onder toesig). Sodat pa nog kon werk. (Ek het verlof geneem en gaan nog ’n paar dae neem, maar dit het nie die verwyt Jy werk altyd afgeweer nie.)
Tog, ek is hier. Ja, ek moet vir knaap leer dat ek my ure moet werk voor ek kan speel, maar ek het ’n wonderlike werk waar ek byderhand is om pa te wees as dit nodig is.
Toe sien ek gistermiddag hierdie sepie, stukkend, voor die bottel winkelseep lê. Natuurlik moes die kamera uit. En ná ek die sewe foto’s vir die man op skyf gesit het, ontwikkel ek toe die hartjiefoto. Ek kon nie anders as om dit ook op die blog te sit nie.
Gisteraand nog het die jongman weer gevra ons moet ligsirkels teken. En hier is sy beste resultaat van gisteraand.
Ek sou nie ’n trekarbeider kon wees nie. Dalk wel as daar geen ander manier was om vir Knaap kos te gee nie. Maar ek is bly daardie beker het my verbygegaan.
Comments