Aan: George Weideman Plek: Hierna Van: Izak de Vries Plek: Steeds hier
Datum: 28 Augustus 2008
Beste George
Ek hoop die paadjie wat jy net na drie vanoggend moes stap, was besaai met geel, glimmende Namakwablomme. Ek glo nie die engele sou so stupid wees om vygies te gooi nie, want hulle is blerrie glibberig.
Wat my nou eintlik bring by die rede vir my voorbarige skrywe: Ek dink jy moet sê dat hulle vir jou ’n moerse groot boerpampoen moet bring. Laat hulle dié ding omskep in ’n koets. Jy weet, so ’n lekker groot langslapgatlimo van ’n pampoenkoets wat langs die straat sy vinne wys. Dan kan jy ook gaan blomme kyk. Jy sal niks wil saamvat nie, ek weet. Jy sal net weer kan síén dit wat jy die afgelope paar jaar moes onthou.
Sê vir die engele (ek weet nie hoe slim hulle is nie) dat hulle vier groot volstruismannetjies moet inspan. Hulle hakskene is hoeka nou so lekker rooi, hulle sal ’n hondegaloppie kan looi.
“Skink, Galiepie, skink!” moet jy vir die butlerengel sê, terwyl julle op pad is, “Skink ’n doepa vir droefte.” Die heuningbier smaak mos soeter, hoe dieper jy dit moes verduur, nie waar nie?
Gaan kýk weer na daardie vygies, die halfmense en die ongelooflike madeliefies, melkbos, kokerboom en vingerpol; blommetjie gedenk aan my!
Slaan die sweep as die volstruise steeks raak. Skilliewip Skilliewap, laat hulle voete klap! Bontplesier en Swaarkry! Boesmanland, Namakwaland, klipkoppies en rooiduinsand.
Ek weet die jare het begin om stowwerig op jou tong te lê. Die paljasblaar het sy skadu nou eenmaal op jou gegooi... Soveel anderste as James Dean, nie waar nie?
Ek was altyd verstom oor hoe goed jy kan beskryf, al was jy feitlik blind die laaste ruk.
Maar nou kán jy mos weer. Gooi af daai bril, stop die koets en ry die
s
k
u
i
n
s
t
e
af, woeps!, op ’n botterboom.
Ek weet jou klein kandas gaan jou mis. Sy sal haar moet terugtrek in die armsorgskermpie wat jy vir haar gebou het. Maar dis ’n annerlike dans wat jy nou moet dans.
Jou bielies van boklammers is ook lank nie meer muistandmeisiekinders nie, en jy lank nie meer ’n square in hulle oë nie. Soos jy eens met jou pa, gaan hulle die homo faber in jou nog lank onthou.
Ek ook.
Gedigte, dan, is wegvlug van die waarheid. Dis hoekom ek vir oulaas jou werk soos ’n hamerkop vergader en aan jóú bied. Ek is nog te nat agter die ore om hierdie brief stewig hok te slaan. Aanvaar dit maar as ’n glanspamflet.
Dankie, George, dat jy my ’n bladsak vol versies gelos het, polfyntjies vir die onthou. Jy had darem die vermoë om ’n blom blommer te maak, om klam sand aan ’n boer se velbroek te laat kleef in die land van die watersoekers.
Vaarwel! Vlieg ’n songeel streep oor die stoep!
Izak
Comentarios