Hendrik (links) en Chris by hul gedwonge oonagskuiling.
‘n Sabieparkse buurman, dr. Hendrik van Tonder, vertel op die Sabiepark-webwerf van die “half nare” Wildtuinervaring nadat sy voertuig se battery hom in die steek gelaat het. Hy en sy broer, Chris, ń Australiese burger, sal hul nag van ontbering naby die Mopani-ruskamp nie lig vergeet nie.
In Mopani het hulle in ń hut gebly met ń pragtige uitsig oor die Pioniersdam. Na ‘n lekker ontbyt van spek en eiers vat hulle die Dipenipad al langs die oostelike grens, rigting Shingwedzi. Hulle vat niks ander in Hendrik se Prado saam nie en as net verkykers, kameras, hul selfone en 500ml water elk.
Die pad was doodstil wat ander motors betref, maar hulle het heelwat wild gesien, veral groot olifanttroppe, ook alleenloperbulleen hul askari’s.
Sowat 48km van Mopani is die Nyawutsi-voëlskuiling. Hulle het so 15 minute daar vertoef. Hendrik draai die sleutel om verder te ry, en … niks. Die battery was morsdood. Hoe maak ń narkotiseur en ń veearts om uit díe penarie te ontsnap?
Dit was warm, sommer baie warm, hul waterbotteltjies onder die halfpadmerk, geen selfoonontvangs, 300 meter van die Dipenigrondpad, en ergste van alles: op die laaste sowat 20 km het hulle geen ander voertuig teengekom nie. Dit was n Maandagmiddag,buite skoolvakansie in die noorde van die Park en gou het hulle besef hulle slaap moontlik die nag net daar.
Hulle het die Prado gestoot tot teenaan die ingang van die skuiling en toe voorraad opgeneem: sowat 500 ml water tussen die twee, ń pakkie XXX-pepermente, twee selfone met flitsies, kameras en verkykers. Verder net twee moedelose middeljarige mans sonder hul pille en brille. Teen 18h00 was dit donker en die muskiete bedrywig daar langs die water. Hulle het maar in die kar gaan sit. Die ruite was gelukkig oop want dit was stomend warm en hulle was baie,baie dors.
Hulle het die nag deurgebring in die voorste sitplekke en het oor baie dinge gesels (hulle sien mekaar maar sowat elke vyf jaar). Olifante was deur die nag om die watergat maar hulle kon nie hul hande voor hul oë sien in die nagdonkerte nie en die selfoonliggies was te lig in die broek.
Dit was ń eindelose,dorstige en warm nag en later het jy nie eens die muskiete probeer wegklap nie., vertel Hendrik.
Om 05h00 het ń reënbui uitgesak. Aangesien die ruite oop was, het hulle bietjie nat geword. Hulle kon egter geen water opvang onder die twee groot appelblaarbome waaronder die motor gestaan het nie. Dit was toe dat Chris vra of sy broer seep by die ruitwasser se water gooi. Hulle kon van die water uittap en dit was skynbaar sonder enige byvoegsel gewees – toe drink hulle water!
Die twee was toe meer positief oor die penarie, en het maar in die skuiling gaan sit en na die voëls en bome gekyk. Chris wou teen die tyd ń vuur maak en rookseine die lug instuur, maar ouens wat nie rook nie het dikwels nie vuurhoutjies by hulle nie en die Prado se sigaretaansteker benodig ń motorbattery wat krag lewer.
Toe kom Mark en sy vriend daar verby – twee manne in hul twintigerjare wat in Shingwedzi gekampeer het en op pad was na Satara. Hulle het die pap battery vervang met hul dieselbakkie s’n (nooit geweet ‘n dieselmotor kan ry sonder sy battery nie!) en Hendrik en Chris is vort Mopani toe vir water, kos en ń stortbad …. 22 ure nadat hulle by Nyawutsi gestop het. Mark het als weer reggepak in sy bakkie en sou hulle volg.
Drie ure later was die twee Samaritane nog nie in Mopanie nie. Hendrik is na die Veldwagter toe en hulle is met twee voertuie uit om hulle te soek. Die soektog het niks opgelewer nie. Die die soekgeselskap is terug kamp toe.Daar staan hul bakkie toe! Die bakkie het gaan staan kort na Hendrik en Chris hulle verlaat het. Daar sit hulle toe met die dooie battery. Gelukkig was hulle reg vir kampeer en het begin kosmaak in die stofpad totdat ń weldoener hulle na Mopani kon sleep.
Mark en sy vriend is toe teerpadlangs na Satara nadat die vriendelike ouens by Mopani gereël het met Satara dat hulle laat by die kamp sou aankom.
Die twee Van Tonderbroers het die res van die dag geslaap en net ‘n broodjie vir aandete gehad. Die gebraaide tjops is terug yskas toe; hulle was te moeg om te eet. Die volgende oggend het ń vriendelike man van Mopani se werkwinkel ‘n vragmotor en n paar reusekabels gebring om die Prado aan die gang te kry.
Hullr het ń nuwe battery op Phalaborwa gekoop en is sonder voorval terug Pretoria toe.
Deel dit: FacebookTwitterGoogle+PinterestShare Submit a Comment Logged in as Hennie van Deventer. Log out?
Comment
Commentaires