Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers, deur Kleinboer. Resensie: Fanie Olivier. (Boeke24) Wanneer ’n mens Fanie Olivier se geduldige, begrypende bespreking van hierdie bundel lees, en jy kom by sy slotopmerking oor die moontlikheid dat die bundel dalk sensitiewe lesers sal ontstel, dan sug jy ’n diep sug en jy dank jou sterre dat ons nie meer in die hoogty van FIJ en Merwe en al daardie slim manne lewe nie. Wat sou hulle met Kleinboer aangevang het? Laat dié gedagte maar ’n nagmerrie bly. Ek slaan hierdie resensie hoog aan, maar ek dink Olivier kon die opmerking oor sensitiewe lesers maar uitgelaat het.
Het jy geweet ek kan toor, deur Jeanne Goosen. Resensie: Rudolf Stehle. (Rapport Boeke) Die grendeltyd is besig om mens sag te maak. Normaalweg sou Crito gemor het oor die akademiese nuk van die skryfstyl, maar ag wat, wat maak dit saak? Nie dat hy verstommend nuwe insigte aanbied nie. Wie sou kon? Hy het wel ’n heerlike manier van formuleer, en ’n gawe om dinge netjies saam te vat.
As jy van moord droom, deur Deborah Steinmair. Resensie: Annelise Erasmus. (Rapport Boeke) Annelise Erasmus kom uit ’n filosofiese omgewing. Die manier waarop sy haar resensie aanpak, is vars en welkom. Haar betoog verval nie in voorspelbare gemeenplase nie en haar analise van die teenstellings en teenoorgesteldes in Steinmair se roman bring ’n varsheid na die muwwe wêreld van resensies. Ek hoop ons gaan meer van haar resensies te lese kry.
Uit die kroes: Gedigte deur Lynthia Julius. Resensent: Nathan Trantraal. (Rapport Boeke) Ek begin al uitsien na Trantraal se resensies. Dit is ’n uitdaging om agter die kap van sy Kaaps te kom, maar sodra mens in die swing of things is, by wyse van spreke, is dit heerlik om te sien watse maatstawwe hy aanlê en hoe hy uiteindelik by ’n posisie kom waar hy min of meer die kunswerk benader soos Leavis sou.
Commentaires