In die voue van jou gordyne of in jou linnekas – op plekke waar jy dit dalk die minste verwag, kruip een van die gevaarlikste spinnekop-kalante moontlik weg.
Pas op vir die venynige sakspinnekop. Sy byt veroorsaak ‘n liederlike wond (lyk soos ‘n lelike puisie) en kan selfs tot veelvuldige operasies lei om die gif en aangetaste weefsel uit te sny.
Allerlei grusame stories het ons ore bereik nadat ons kleinseun Migael van Deventer (11) van George by Sabiepark se swembadjie op sy knie gebyt is; van vingers waarvan net die been oorgebly het, gapende gate in die vel, amputasies en selfs die dood.
Gelukkig het Migael vinnig by ‘n dokter in Skukuza uitgekom wat spinnekoppe en ander geniepsige trawante se spore ken. Hy het die dik geswelde rooi wond op die knie net een kyk gegee en dadelik gediagnoseer waar die kwaai eina vandaan kom. Sy aggressiewe behandeling met antibiotika het genadiglik die knie se weefsel gered. Binne dae was Migael weer aan’t boomklim en swem – maar nie voordat die wond nie oopgebars en ‘n verbysterende spul etter uitgestroom het nie.
Sy ma, Mariza, was geskok toe sy sien wat die spinnekop alles in die wond op haar seun se knie gedeponeer het.
Die gelerige sakspinnekop is relatief klein, maar is bekend as een van die “Gevaarlike Vyf” in die geledere van Suid-Afrika se agtpotiges. Sy byt is meesal nie dodelik nie. Soos sy nabyfamilie die vioolspinnekop is sy gif sitotoksies. Die gif val weefsel aan, nie die senustelsel nie. Dit voorkom dat witbloedselle by die beskadigde weefsel rondom die bytplek kan uitkom. Die gevolg is dat die weefselselle afsterf. Die gif kan met ‘n pofadder s’n vergelyk word.
Die sakspinnekop leef gewoonlik buite in plante se blare, maar kom ook redelik algemeen in huise voor. In die Hoëveld het omtrent elke huis sy sakspinnekop of twee, waarsku ‘n kenner. Soek maar dadelik vir vreemde klein sakkies in jou gordyne se voue of aan jou linne, mevrou!
Die kenner praat net van die Hoëveld. So geografies beperk is die ventjie se habitat egter nie. Uit reaksies op Migael se pynlike ervaring blyk dit dat minstens tien mense wat aan ons bekend is, landwyd al in wisselende grade van ernstigheid die slagoffers van die lelike meneer was.
Die arme Migael. Voor sy onderonsie met die spinnkopwas was daar in die Van Deventers se verbintenis van 20 jaar in Sabiepark al stampe en stote van vlakvarke, ‘n paar groot skrikke weens slange en skerpioene, asook ‘n luiperd en hiëna of wat op die stoep wat gevaarlik kon word. Die ergste ongeval voorheen tot dusver was egter Tokkie se been wat onder ‘n sogenaamde witmot deurgeloop het. Nou dra die spinnekop-episode die kroon.
Met Migael se kennismaking met die plek agt jaar gelede het hy as driejarige seuntjie in ‘n kort bestek aan die skokdraad by die piekniekplek gevat, vat die stoepmuur getuimel en in die watergat beland. Hy het sekerlik rede om in negatiewe terme oor Sabiepark te dink. Maar hy bly lief vir die plek, soos ons almal. Uit die swembadjie hou jy hom nie sommer nie al is die water vriesend.
(Seker net billik om te noem dat skere navorers die sakspinnekop as ‘n onskuldige sondebok beskou. Hulle meen ander spinnekoppe en goggas is dalk eerder vir daardie nare wonde verantwoordelik Hul teorie gaan egter baie oortuigingswerk verg. Die “puisiewonde” lyk darem net te eenders. )
Commentaires