Private biografie van Eli Louw.
Tokkie, my eggenote vir op die nippertjie 50jaar, se doopname is Gesina Susara. Geen kommentaar daarop nie. Moet dit egter noem om iets te verduidelik.
Wyle oud-minister en voormalige speaker Eli Louw was ook met ‘n Gezina getroud (z of s maak nie juis verskil nie). Vir 60 jaar. Vir hom lig ek my hoed hoog. Sit nie in elke man se broek met ‘n Gesina/Gezina nie! (Het, terloops, in my wynversamelinkie ‘n sauvignon blanc wat na daardie Gezina heet – “nogal kompleks en vol nuanses!”)
Maar Eli Louw was nie sommer elke man nie. Nog iets waarvoor hierdie gewilde Namakwalander spesiale vermelding verdien, is sy dapper rol in die pynlike, stormagtige kabinetsvergadering van 14 Augustus 1989 waar pres. P.W. Botha oortuig is om teen sy sin die tuig neer te lê.
Elke kabinetslid het die kans gekry om sy saak te stel. Eli Louw, goeie vriend van die president, het opgemerk dat die P.W. Botha van voor sy beroerte en ná sy beroerte nie dieselfde man was nie. Dit het vir hom heelwat wrewel van die gekweste president op die hals gehaal. Hy het gevoel hy is in die rug gesteek.
Maar dit was raak woorde – direk tot by die kern van die saak.
In ligter luim haal ek by Oom Eli se afsterwe graag ook ‘n storie op wat in my laaste humorboekie, Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel 2010), verskyn.
Dit is die storie van twee oujongkêrel-broers van Namakwaland wat hul vingers sleg verbrand het – die jaar toe hul beeste so moddervet was. Hulle kon sommer sien hier is hul kans om ’n groot slag te slaan, en hulle sit toe hoog in met die prys.
Kopers kom, kopers gaan, maar hulle hou vas. Toe, op ’n dag, kom klop ’n Johannesburger met ’n dik tjekboek aan hul voordeur. Die prys is reg, honderd persent.
Die koper skryf sommer dadelik die fris tjek uit. Maar nie lank nadat die vent met die beeste vort is nie, hier is sy tjek terug – VNT, verwys na trekker. Daardie ding ken die broers nie. Hulle sal moet in Loeriesfontein toe om die prokureur te gaan vra.
“Manne dis slegte nuus,” verduidelik hy. “Daai skarminkel het julle verneuk. Hy’t nie geld nie. Al wat julle kan doen, is om ’n saak te maak. Anders gaan julle kaal uitkom.”
Maar nee, vir ’n saak sien hulle nie kans nie. Bedroë ry hulle toe maar terug plaas toe, en steek op die werf vir hulle ’n vuurtjie aan. Hulle tuur in stilte in die dansende vlamme, en bepeins sugtend hul sware lot.
“Ou broer,” verbreek een oplaas die broeiende stilte en sak behaaglik op sy kampstoeltjie agteroor. “Daardie tjek het nou wel gehop, en dis verskriklik jammer en als, maar ons het darem wragtig ’n goeie prys gekry vir ons beeste!”
Die bron van daardie storie was die prokureur by wie die twee broers op Loeriesfontein gaan aanklop het. Sy naam was Eli Louw. Het nie ‘n idée hoekom ek dit nie in “Tamatiestraat” vermeld het nie. Maar stel graag daar ommissie nou hier reg.
(Aangepaste weergawe van ‘n blog wat in Mei 2013 hier verskyn het.)
Comments