SEWE REDAKTEURS – HvD, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Ainsley Moos, Johanna van Eeden, Gert Coetzee (huidige redakteur).
As oudste lewende oud-redakteur van Volksblad (in chronologiese sin) was dit my voorreg om Saterdag by die veterane-saamtrek in Bloemfontein ‘n woordjie te spreek. Met “gedagtes op goue vleuels” het ek hulde gebring aan ONS koerant en ONS kollegas – waarop ons albei onverbloemd trots durf wees. Hier is ‘n uittreksel uit my toesprakie.
Ek vertel graag hoe ek in 1958 as vakansiewerker op Wiets Beukes se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis – in Sewende laan nogal, meen ek – met Antonin Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie kennis gemaak het.. Die simboliek het my later getref: dat my eerste wankelende treë in die joernalistiek ook vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit het: ‘n dinamiese, stimulerende, verrykende wêreld. Op pad na Bloem luister ek Woensdag na Guiseppe Verdi se magtige koorwerk, Va Pensiero – Gedagtes op goue vleuels. Die simboliek in daardie titel is ewe treffend.
Vele herinneringe aan my eie Volksbladjare gee my gedagtes goue vleuels. Ek bly daaroor skryf en skryf en skryf. Dit is soos die ou M-net-klingel: “The magic continues”. Elkeen beleef vandag opnuut die Volksblad-“magic”, glo ek. Twee kern-elemente van daardie “macic” is (i) ons koerant en (ii) ons kollegas. Op albei kan ons onverbloemd trots wees.
Vir my bors uitstoot oor ons koerant ploeg ek met anderman se kalwers. Ek haak graag aan by drie aanhalings.
Nommer een is op die agterflap van die eeufeesboek, ‘n Lewe van sy eie: dat Volksblad (Die Volksblad, soos die meeste van ons hom geken het) vir derduisende mense ons koerant is, “want oor tien eeue (nou al 11) het Volksblad saam met sy lesers vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting aangedui – geleef.” Min koerante verdien so ‘n getuigskrif.
Nommer twee is die woorde van prof. Peter de Lange, oud-rektor van die RAU en voorsitter van ‘n organisasie wat sommige die horries gee. Sy woorde: “Ek ken geen ander koerant wat so na aan sy lesers leef nie.” Ja, tot in daardie verhewe (klandestiene!) kringe is ons koerant se unieke karakter raakgesien.
Nommer drie is ‘n versie deur Philip de Vos op die spykaart by die Kaapse viering van die Volksblad-eeufees: Maar – Volksblad/ Klim die hoogtes /Deur storms en deur droogtes /Deur oorloë, griep en Runderpes,/bied hy ‘n les vir al die res/en so gaan hy steeds aan en aan/ en hoop om lank nog te bestaan! ‘n Lang, vrugbare en voorspoedige voortbestaan word ons liewe Volksblad seker deur elkeen van ons toegewens.
As ‘n oud-nuusredakteur besef ek “names make news”. Wanneer ek oor kollegas iets sê, gaan ek egter vermy om roem en prestasies by name uit te sonder – selfs van die beroemdstes; en ons het nogal ‘n paar beroemdes in ons geledere. Maar waar trek jy die streep?
Gaan ry maar rond in Langenhovenpark en kyk die straatname, stap deur biblioteke of boekwinkels, gaan lees Hansard – talryke mense wat voorheen op DV se betaalstaat was, is gesiene burgers. Pryswennende skrywers tel jy in dosyne. Uit 80 se penne het glo al 950 boeke gevloei.
Van die boeke is topverkopers; vind jy prominent uitgestal op internasionale lughawens; word vertaal in dosyne tale; lê in haas elke kinderkamer. Ons skrywers se bydrae tot Afrikaans is ontsaglik. Een (amper paradoksaal, dalk die mees beskeie onder ons) het pas die gesogte en prestigeryke Jan H. Maraisprys verower vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.
Party kollegas het ver paaie gaan loop – ver-ver buite die Vrystaat, en selfs SA. Gaan soek in Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, België, Afrika – jy sal iemand raakloop wat in Voortrekkkerstraat 79 gewerk het.
‘n Stewige gerf het hul vleuels buite die joernalistiek gesprei. Herman le Roux het vir my ‘n “moerse” lys (sy woorde) gemaak van doktore, professore en ander kokkedore. Daar is parlementslede, prokureurs, boere, offisiere, uitsaaibase, sakelui en bedryfsleiers, skoolhoofde, sielkundiges, kommunikasieghoeroes, spyseniers, ‘n predikant, ‘n narkotiseur, ‘n sepie-akteur, ‘n “Bybelsmokkelaar” (soos hy homself noem), ‘n landdros, een wat die sokker-wêreldbeker help reël het, ‘n “toekomskundige” ….
Het enige joernaliste oorgebly? Inderdaad. In die perswese is Volksbladders se bydrae amper onmeetbaar. Vier Phil Weberwenners, 13 dagbladredakteurs, 15 ander redakteurs, verskeie sportredakteurs, voorste rubriekskrywers en hope sleutelmense kom uit Bloemfontein. Ook vele bekroondes met Veertjies en wat nog.
Vir ontstellend baie van ons kollegas het die finale deadline reeds aangebreek. Saam met die teleks, die Speed-Graphics, die Remingtons, die Corona-Smiths en die kollekteeroproepe uit afgeleefde telefoonhokkies is hulle heen. Ons dink aan hulle met hartseer en dankbaarheid vir vrugbare lewens. ( Die sewe redakteurs van die koerant sedert 1980 was die Vrydag byeen – ‘n geskiedkundige oomblik in die koerante-annale. ) Deel dit: FacebookTwitterGoogle+PinterestShare
Comments