Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.
Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig. Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies. Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.
Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.
In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!
Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg: van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies. Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.
Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword. Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede. ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.
Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.
Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon. Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg. Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos. Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.
In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.
Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.
In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!
Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!
Comentários