Jannie Zaaiman, sy vrou, Marina en twee van hul kinders was vroeg in die nuwe millennium in ‘n kapingsdrama. Hulle het wonder bo wonder skotvry daarvan afgekom. Die egpaar doen toe ‘n lofwaardige ding – verhard nie hul harte in veroordeling nie, maar besluit om iets vir die gemeenskap te doen. Hul ideaal word om jongmense van die strate af te hou sodat hulle nie in misdaad verval nie.
Op 24 Julie 2003 stig hulle ‘n koor, die Mzansi-jeugkoor; en veertien jaar later kry daardie koor – ná ‘n triomfantlike Britse toer begin April vanjaar in Londen by die gehoor van 3 500 in die beroemde Royal Albert Hall ‘n spontane staande ovasie.
Dit is ‘n riem-onder-die-hart-storie wat in enige omstandighede ‘n mens se aandag sou trek. Vir my is daar ‘n bykomende faktor: die van Zaaiman. Jannie Zaaiman is die seun van mnr. Stephanus Fortunatus (Bart) Zaaiman wat aan die begin van my joernalistieke loopbaan by Die Volksblad in die jare 60 ‘n mentor was.
Die latere redakteur was daardie tyd assistent-redakteur en het ‘n sleutelrol ook in nuushantering gespeel. Met sy gevreesde rooi pen kon hy vrot skryfsels behoorlik aan flarde skeur. Van hom het ek enkele “bloutjies” van minder voortreflike berigte teruggekry wat soos klein Bloedriviertjies gelyk het. Het dan maar oes gevoel. (Al ons berigte is op deurslagpapier getik. Die een kopie is na die nuusredakteur en die ander na die strenge assistent met die hoë standaarde.)
Enige goedkeuring uit sy kantoor was, daarenteen, salf vir die gemoed. Een pluimpie wat ek tot vandag onthou was vir ‘n berig – sterk op die voorblad aangebied – van die eerste dag van die skooljaar in 1963 of 1964. Ek loop my daardie oggend vas in ‘n sub-A’tjie wat skool net een kyk gegee en besluit het: dit is nie vir my nie, dankie. Sy boetie in standerd een, met die opdrag uit die ouerhuis om ‘n wakende oog oor die jongste te hou, wou sy vlugtende broer in alleryl agternasit. Toe keer ‘n onderwyser hom by die hek voor. Snot en trane.
Oom Bart se “bloutjie” is deur ‘n bode op my tikmasjien neergesit. “Felisitasies – uitstekende storie”, was in mnr. Z se kenmerkende handskrif met sy rooi pen bo-aan geskryf.
Jannie was daardie tyd in die hoërskool. Ek het hom en die ander Zaaimankinders nie juis goed leer ken nie. Weet net dat hy as student ‘n stapper van faam was op die atletiekbaan en ‘n akademiese loopbaan gevolg het wat tot ‘n vise-rektorskap by die Universiteit van Venda gevorder het. Groot lof is aan hom toegeswaai toe hy onlangs aftree. Sy pa sou trots gewees het op so ‘n voortreflike loopbaan van Zaaiman junior.
Vandag se “felisitasies” uit Melkbos het niks met sy atletiekprestasies of akademiese loopbaan te doen nie; alles met die formidabele voetspoor van die Mzansi-koor, danksy die Zaaimans se se idealisme en toewyding.
Die beginjare was ontsettend moeilik, vertel Jannie. Hulle moes kinders tot drie-uur in die oggend by hul huise in Soweto en elders gaan aflaai – soms in die pikdonker (weens beurtkrag) en in gietende reën. Jannie se motor was soos ‘n voorloper van die hedendaagse taxi – meermale propvol gelaai met tot nege pssasiers op ‘n slag!
Heerlike vrugte op hul arbeid het nie uitgebly nie – soos die bruisende hoogtepunt in die Royal Albert Hall-konsert en die optrede einde verlede jaar in Moskou en St Petersburg – maar ook in die welslae van hul opheffingswerk in vele individuele gevalle.
Een koorlid, ‘n weeskind, sing bv. nou heeltyds in Duitsland. Hy het met ‘n musiekbeurs aan die Noordwes-Universiteit musiek studeer. Daarna is ‘n beurs aan hom toegeken vir twee jaar se opera-studie in Duitsland. ‘n Mens kan dink watter emosionele reünie dit was toe hy en die koor ‘n keer saam by die RMB Starlights Classics op de Vergelegen-wynlandgoed opgetree het.
Van die koorlede kom uit die haglikste omstandighede, soos Annie Lishaba, oorspronklik van Limpopo, wat in die uiterste armoede saam met haar broer in ‘n plakkershut in Soweto gewoon het ná haar moeder se dood. Geld vir kos – of selfs vir ‘n kers om by te studeer – was daar kwalik. Haar skoolwerk het daaronder gely.
Jannie en Marina het haar belofte raakgesien, vir haar beter huisvesting bekom en daarvoor betaal. Hulle het kos op die tafel gesit en haar later ook gehelp om ‘n rybewys te kry. Skielik het haar punte ‘n opwaartse kurwe getoon. Deure het begin oopgaan. Sy het ‘n diploma in sakebestuur verwerf en begin droom van ‘n graad.
Hul reusebydrae om deur hul koor jongmense so te besiel en die beste uit hulle te haal, gaan meesal onbesonge verby. Jannie en Marina soek ook nie lof of publisiteit nie, droom net hul drome om ‘n musieksentrum in Soweto te bou. ‘n Argiteksfirma is besig om vir hulle planne op risiko op te trek en dan gaan hulle wêreldwyd begin geld soek.Saam met Jannie wonder ek tong in die kies: Sal ‘n Naspers-musieksentrum nie goed lyk in Soweto nie!
(Mnr. Zaaiman – Oom Bart, soos ons hom op ‘n bynaam genoem het – was redakteur van Die Volksblad van 1970 tot 1980. My voorreg gewees om hom op te volg en van 1980 tot 1992 in dieselfde stoel te sit waaraan hy in die vorige dekade soveel waardigheid en gesag verleen het.)
Comments