Velleseremonie: Tokkie en seuns.
Fees-inie-bos noem Nelspruit sy jaarlikse kunstekarnaval.’n Fees-innie-bos soos min was ons somervakansie van 2018/2019.
Op 30 Desember was Brent en Marisa 18 jaar getroud; op 31 Desember ek en Tokkie 52 jaar (70 jaar se versamelde huweliksoet en –suur binne 48 uur by Tarlehoet gevier); op 3 Januarie was die uwe 78. Die tradisionele groot feesdae Kersfees en Nuwejaar tussenin het nie vergete gebly nie.
Vonkelwyn is telkens geskink. Feestelike etes het ingesluit ‘n Groot Ontbyt by die Protea, Kerskalkoen in die Weber, dik gebraaide kruisskyf op Tarlehoet se stoep, ‘n koue-vleis-buffet (die seuns is vrye teuels gegee met die opdis van die keurige middagmaal) , kaasborde en wat nog.
Thomas, Jacob en Christopher se kreatwiteit met tafeltemas was weer eens onbeperk. Eetgerei met sebra- en luiperdmotiewe kersies, ystervarkpenne, spesiale servette, ysterpotjies – waar alles uitgegrawe is, weet ek nie. ‘n Fees van liggies is gereeld opgtower: in die lapa, op die stoep, rondom en in die swembad. (‘n Fotoblog van hul tafels verskyn later.)
Met Oupa se 78ste is die oggend ‘n tradisie voortgesit wat met sy 21ste langer as ‘n halfeeu gelede in Welkom begin is. ‘n Omelet is bedien met 78 daarop in Bovril geskryf. Die aand was op sy plek aan tafel ’n sewe en ‘n agt van hartens, Christopher (‘n vreetkaart-kampioen) se idee.
Die natuur het vir twee buitengewone feeste gesorg met heerlike reën wat twee maal in digte gordyne neergegiet het: onderskeidelik 17 in ‘n vroegoggend-storm en’n deurdringende 64 mm deur die nag. Vir die storm het ons en die seuns om 0400 op die stoep versamel, koffie gedrink en ons aan die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse verwonder. Dit is sulke meesleurende oomblikke wat jou die swaarkry in die somerhitte laat vergeet. Dan het die magdom paddas luidrugtig gekwaak en die kinders uitgelate in die reën in die swembad baljaar. Een met ‘n diep stem is Petrus Padda gedoop. ‘n Ander koer (pirr) soos ons nog nooit ‘n padda hoor koer het nie. Dalk ‘n immigrant uit Mosambiek?
Die koeligheid weens die reën was ‘n heerlike lafenis te midde van versengende hitte met die kwik wat verby 40 grade klim. (Thomas se humoristiese paddastories was ewe verfrissend. )
“Seremonies” het ingesluit die ooprol van twee wildebees- en ‘n paar springbokvelle wat met die komplimente van Brent uit die jagveld kom. Tokkie het vir die rooi linte gesorg en die kameras het elke aspek van die plegtighede verewig.
Sabiepark is vanjaar 40 jaar oud. Na die insigte van hierdie Sabiepark-veteraan verdien die bereiking van hierdie baken ‘n eie fees. As Sabiepark se owerhede en magte dan traag is, sal ons maar ons eie interne fesie moet reël. Ons weet immers hoe!
(Die eerste van vier blogs oor ons somervakansie in Sabiepark.)
Comments