Lukas fokus bv. op Maria wanneer hy die geboorteverhaal vertel. Mattheus gee meer aandag aan Josef. Hy berig oor die geboorte maar slaan dan die res van Jesus se jeugjare oor. Markus vertel nie die verhaal van Jesus se geboorte nie. Hy begin by die prediking van Johannes die Doper.
(Markus is, terloops, die enigste wat die verhaal vertel van die jong man wat kaal weggehardloop en sy laken agtergelaat het toe die mans hom by Jesus se inhegtenisneming gryp – dalk Markus self?)
Johannes se Evangelie is heeltemal anders as die ander drie. Hy begin Jesus se verhaal nie met sy geboorte of stamboom nie, maar met die begin van die skepping: ”In die begin was die Woord …” Johannes is die enigste boek in die Nuwe Testament waarin die woord “Messiah” voorkom.
Die opstanding gryp Johannes klaarblyklik ten diepste aan. Sy beskrywing van die leë graf is buitengewoon roerend.
Matteus noem drie geskenke (goud, wierook en mirre). Was daar dus werklik drie wyse manne? Die Bybel noem nie ‘n getal nie. Die tradisie van drie het klaarblyklik op grond van Matteus se mededeling ontwikkel.
Lukas (wat ook die outeur van Handelinge is) word in die boeiende boek “Leer die Bybel ken in 30 dae” van J. Stephen Lang as die nougesette geskiedskrywer uitgebeeld, wat, in sy eie woorde, Jesus se verhaal “stap vir stap van vooraf” ondersoek het om die verhaal “noukeurig in die regte volgorde” neer te skryf.
Hy maak meer staat op geskiedkundige verwysings as die ander Evangeliste. Chronologies is hy waarskynlik dus die suiwerste.
Lukas was terselfdertyd geneesheer. Daaroor maak die skrywer Lang die tersluikse opmerking dat hy klaarblyklik deur Jesus se genesingswonders geboei is. Hy gaan dieper op besonderhede oor siektes in. Hy is ook die enigste wat die verhaal van die bedelaar Lasarus vertel, die man wat so vol swere was dat die honde daaraan kon lek.
‘n Amusante stukkie inligting is dat hy (self ‘n dokter) in die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, ‘n feit uitlaat – hy sê nie soos Mattheus en Markus dat sy al haar geld op dokters uitgegee het nie!
Studente van die onderwerp kan natuurlik in veel meer diepte oor die onderskeie fokusse en kontekste uitwei. Die skrywer Lang kom egter tot die gevolgtrekking dat ons kan bly wees daar is vier Evangelies en nie net een nie, net soos ‘n hof bly is as daar meer as een getuie oor ‘n saak is. Hoe meer getuies (bronne), hoe duideliker is die beeld van wat gebeur het, bevind hy.
Ook daardie bevinding interesseer my as joernalis uitermate, veral wanneer die jagseisoen op koerante oop is oor verskillende weergawes en vertolkings, soos taamlik gereeld gebeur; onlangs weer rondom die Oscar Pistorius-sage.
Joernaliste is ook maar mense met eie insigte, subjektiwiteite en – belangrik – verskillende bronne. As hulle uiteenlopende aspekte van dieselfde storie belig, beteken dit nie dat hulle willens en wetens lieg nie. Al die brokstukkies help bou om uiteindelik by die volle waarheid uit te kom: die evangelie ook in figuurlike sin.
Comments