Dis nie elke dag Krismis nie. Vandeesweek was daar ’n handjievol resensies van nuwe Afrikaanse publikasies, wat mens met wilwillendheid deurgelees het, en een resensie wat vasgesteek het in jou gedagtes. Dit is Erika de Beer s’n van Die skaalmodel in Boeke24.
Dié roman van Anneli Groenewald sorg dat Skipskop en sy geskiedenis, gekaats teen die moderne lewe op Bredasdorp, deel van ons nasionale narratief bly. As mens dink hoeveel deur die jare oor Distrik Ses geskryf is, is hierdie hopelik die begin van ’n nuwe herstelproses. Terwyl ons owerstes nou grond wil teruggee …
De Beer se reaksie op die boek is vir my veelseggend. Sy haal heel tereg David Kramer se bekende liedjie oor Skipskop op. Daardie liedjie het baie harte geroer, maar nie dié van die Botha-regime nie. Die resensent laat haar nie verlei voor die versoeking om die verhaal te probeer vertel nie. Die skaalmodel maak nie daarna nie.
Wat sy wel doen, is om sensitief en gevat te reageer op die inhoud. Haar argumentasie is bedees, maar uiteindelik glo mens haar heeltemal wanneer sy sê dat Die skaalmodel die soort werk is wat die leser nie toelaat om op te hou lees nie.
Die enigste ander resensie wat iets nuuts gebring het, is Deborah Steinmair s’n oor Pirana, die nuwe Kassie Kasselman-roman deur Rudie van Rensburg (Rapport Boeke).
Die probleem hier vir enige resensent is wat mens nuuts kan sê oor ’n roman waarvan die hoofkarakter reeds in ’n viertal ander boeke sy ding gedoen het? Hoe resenseer mens Lee Child, Deon Meyer, Patricia Cornwell?
Steinmair bring die fokus terug na Kasselman en sy hebbelikhede, en doen dit op ’n vars manier. Vir diegene wat nog nooit Rudie van Rensburg se romans gelees het nie, is hierdie die ideale kennismaking. Vir diegene wat al alles uit Van Rensburg se pen gelees het, is egter nie veel meer nodig as om te sê die roman is weer tops nie. En dít kry mens eintlik al in die opskrif. Kasselman-aanhangers weet van crème soda.
Comments