Ek kry gereeld navrae oor leesstof vir die kleingoed. Wel. My seun het pas sy eerste roman afgedraf. Pa het gelees, hy het met groot oë geluister na en hom verkneukel aan Erik en die Kido-dinges van Leon de Villiers.
Knaap is ses en om deur ’n jeugroman van 63 bladsye met bloedweinig prentjies te sit, wil gedoen wees. Maar dan is Leon de Villiers ’n meesterverteller.
Dis ’n wonderlike boek met baie lesse vir Pa en Ma.
Erik slaan die boelie wat sý vriend gekarnuffel het. Dan laat sy pa hom die hondebolle optel as straf. Luister hoe begin die boek.
Baie kwaad kyk Erik na die groot, geelbruin hondebolle voor hom. Yslike, stinkende hondebolle. Tamaaie, pap hondebolle.
Watter seuntjie sal nie nou al ril van walging nie?
Erik besluit uiteindelik hy is moeg vir sy gesin. Hy wil ’n ander gesin hê. Sy pa en ma laai hom dan af by die Kidoteek. Daar kan ouers hulle kinders ingee en ander uitneem.
Alles goed en wel, tot Erik besef wat in ander gesinne se lewens gebeur.
Gelukkig kan hy dan die ánder ouers weer inruil by die Oudoteek.
Julle kan raai waar hy weer teregkom, máár eers na sy ouers jammer gesê het dat hulle nooit na hom geluister het nie.
Hierdie roman het ook ’n ander spesiale ding in ons gesin laat gebeur. My knapie weet hy is aangeneem en het daarom ’n groot skeidingsangs – groter as ander kinders. Ons het deurentyd, terwyl ek en hy die boek gelees het, vir mekaar vertel dis ’n oulike storie, maar eintlik is dit nonsens. Want, het ons ooreengekom, as hy eers my seuntjie is en ek sy Pappa, is dit vir altyd en altyd en altyd en altyd en altyd en altyd!
Boeke leer dus nie net die ouers om te luister nie, hulle leer ook die knapies om krities te dink oor alles wat hulle hoor en in boeke lees.
Leon de Villiers is een van my gunstelinge. Ek glo nie dié boek is meer in die handel beskikbaar nie, so probeer maar die biblioteek.
Mý kopie het in 2003 by Lapa verskyn, ISBN: 0 7993 3165 1.
Comentarios