O ek laaw dit om Crito te wees. In Afrikaans nogal. Die polisietaal en verdrukkerstaal van weleer, maar nie meer nie. Dis nou die taal waarin ons vir regters sê hulle moet skoert. Die taal waarin ons oor die radio jeremiades kan uitsaai oor hoe die staatsdiens besig is om in duie te stort. Die taal waarin ons die ennui en miserère van die lewe in ’n kleptokrasie besing.
Ek sê vir julle, die ANC laat my altyd dink aan hoe dit voel om mans te vry wat op die rugbyveld leer soen het. Mens kry net nie vat aan hulle nie, want hulle vat vinniger as jy.
Hoekom ek aan hierdie vrolike dinge dink, is omdat ek laas Vrydag die weirdste gesprek afgeluister het en dit my aan die dink gesit het want dit was só kontra jy weet. Ek het gou ’n bietjie goud in my hare gaan laat goi, en die vrou langs my vertel vir Krisna, wat besig is om vir haar ’n Brazilian blowout te gee, van hoe sy sukkel om ’n goeie char te kry.
Deesdae kan mens eintlik net Zimbo’s of Malawianers vertrou, sê sy. Ons eie mense wil nie werk nie, hulle wil managers wees. Vra maar vir enigiemand in ’n gated comm, sê sy. Waarop Krisna vertel dat ’n eks van haar, ’n man wat ’n MA in Afrikaanse letterkunde het, deesdae vir een van die ministers anderkant Eastcliff ’n soort van char-cum-huisbestuurder is. Hy wou eers ’n purser op SAA geword het maar BEE en die aeries vlieg anyway mos nie meer nie.
Dis van daardie punt af dat my gedagtes begin waggel, want Krisna is nie een vir stories klaarmaak nie. Waaraan ek toe dink, is die bespreking wat Izak de Vries op LitNet gedoen het oor François Smith se roman Die kleinste ramp denkbaar.
Ek moet sê, ek is mal oor die manier hoe De Vries dinge doen. Hy het ’n loslit styl, hy kan ’n joke crack en hy het al die Comrades kaalvoet gehardloop. (Ja man, ek weet styl en humor het niks met die Comrades en kaal voete te maak nie, maar dis daardie atletiese prestasie van hom wat altyd in my gedagtes opduik. Dis soos ’n Abba-earworm. Net wanneer jy dink Jonas Kaufmann is terug in jou lewe, begin jy weer Fernando neurie.)
De Vries het duidelik ’n sterk gevoel vir leeskringe, en hy bied sy analise aan as ’n manier om vir die mense by leeskringe entrée te gee in ’n roman wat, soos hy dit stel, moeilik is. Só moeilik dat mens dit as speurverhaal moet benader. Sal nouwel vir Bennie Griessel terugdryf na drank, want moeilik, jy weet mos.
Maar dan, asof hy pas Polly Shortts agter die rug het en sy voete hou nog, maak hy sy move: “Dit is helaas nie die soort boek wat geskryf is vir die ligte leser nie, maar diegene wat hulle graag ophou met boeke van internasionale standaard … wel, ek daag julle hiermee uit om ’n plak 99%-sjokolade te koop, ’n goeie, ou rooiwyn oop te maak en hierdie een weer ’n keer te oorweeg.”
En dan swaai hy om. Dit kan nie soos ’n whodunnit gelees word nie. Dis eerder soos ’n Franse kunsfilm. En dít is vir my waar De Vries my heeltemal gryp en meevoer. Van daardie opmerking af lees ek elke sin aandagtig.
As mens gewoond is aan die oorheersende styl van Afrikaanse boekresensies (okay, mens kan hulle nie onder een kombers inbondel nie, maar hear me out) en jy vergelyk hulle met De Vries se aanpak, is hulle soos ’n fondue wat met Melrose-kaas gemaak is. De Vries gebruik regte raclette.
Hy benader die roman uit ’n veelheid van hoeke. Die interessantste vir my is die Karel Schoeman-vergelyking, en hoe dit De Vries lei na die tydsgees, en die manier waarop François Smith vir Schoeman benut soos Eben Venter met Horrelpoot vir Joseph Conrad benut het.
Mens hoef nie met hom saam te stem nie, maar De Vries se styl is dié van iemand wat ’n gesprek oor ’n boek met jou wil aanknoop. Hy prikkel, hy suggereer, hy maak stellings wat jy kan probeer aanvat as jy lus voel om met hom stry te kry.
Die ding is net, jy gaan nie met hom kan stry as jy nie die boek gelees het nie.
De Vries dink uit die boksie uit. Wat anders kon mens verwag van iemand wat die rug op Adidas en Nike gekeer het? Ek het hierdie bespreking gelees asof ek my hele lewe al gewag het dat iemand só te werk moet gaan, sonder dat ek dit geweet het. Sure, resensente gaan dit nie kan nadoen in koerante nie. Maar hulle gaan anders kan dink oor hoe ’n resensent hom tot sy lesers rig.
Ek het gesit en kyk na myself en my hare met al die foils daarin, en gewonder hoe mens “Loop-en-Val” Motshwarateu se van spel. Op die plek het ek besluit dis darem te obvious om Izak de Vries die “Loop-en-Val” Motshwarateu van die Afrikaanse letterkunde te noem. Daar is maar net een Izak de Vries, die een wat die Comrades kaalvoet gehardloop het én ’n enorme bespreking van François Smith se Die kleinste ramp denkbaar geskryf het.
Commentaires