My 2012 begin op ’n filosofiese, dog positiewe noot. Ek gaan vandag in Kewton braai.
Waar is Kewtown? Dis ’n arm buurt, ’n sogenaamde “bruinbuurt” – taamlik naby die plek waar die koeltorings opgeblaas is en reg langs die rioolwerke.
Hoekom? Want ons vriende het ons genooi – en hierdie twee mooi meisies (hierbo) gaan daar wees. Hoekom dan nou nie?
Die einste twee meisiemense se grootste bekommernis is: Lyk ek mooi genoeg? Kan ek NOG gewig verloor? Moet ek nie minder eet nie?
Dêm. Maar krap dieper, dan begin jy by die mens agter die bene uitkom en jy besef dat selfs tieners mense is.
Jip. Die snaakse ding is, hulle is mense soos alle ander mense.
Hoekom sê ek dit?
Iets krap. Die ander dag was ek by ’n ongelooflike opvoering deur die EOAN-groep. En daar was net een ander wit gesin in enorme die Joseph Stone ouditorium. Hoekom?
André Brink het al in Kennis van die aand die EOAN-groep aan die Afrikaanssprekendes bekendgestel. Sy hoofkarakter was fiktief, maar die plek waar hy sy opleiding gekry het, is nie. Vandag, dekades na Kennis van die aand verskyn het, is daar steeds talle wit Kapenaars wat nie sonder ’n kaart of GPS by die Joseph Stone sal uitkom nie – dis nou te sê as hulle dit sal waag om hulle 4x4’s soheentoe, na Kewtown toe, te bestuur.
Hoekom? Herman Wasserman het ’n ruk gelede ’n puik stuk geskryf oor die Afrikaanse pers wat steeds “ons” en “hulle” aanhang. Maar die feit is, baie van die goed wat Herman as “ons” bestempel, geld net so veel daar in Kewtown. “Ons” én “hulle” hou van melktert, ’n stukkie braaivleis en van ma se kos. Hierdie twee meisies is verslaaf aan Twitter, Facebook en MixIt.
Funie, my assistent en medefotograaf is ’n uiters intelligente meisiekind wat nog groot hoogtes gaan bereik. Hier is sy. (Sy hou nie van afgeneem word nie ;-)
En hier is haar punte aan die einde van graad 11.
Engels 72%
Afrikaans 70%
Wiskunde 90%
Besigheidstudies 71%
Lewenswetenskappe 80% (was bekend as Biologie)
Fisiese wetenskap 73% (was bekend as Skeinat)
Lewensoriëntering 84%
Dôner. Dan is sy nog mooi ook. Sy’s lief vir lees, vir fotografie, vir kuns en ... wil ’n aktuaris word.
My wens vir 2012 is werklik dat ons, wat Afrikaans praat, minder moet laer trek. Ek sien dit nog te veel in die Kaap, ook in Pretoria, om nie van die dorpies Noord van Pretoria te praat nie.
Ek gaan op die eerste dag van 2012 in Kewtown braai. Nie oor ek ’n statement wil maak nie. Nee. Ek gaan want ek is deur vriende genooi wat my taal praat, lief is vir braai en my ou-oomlyf laat goed voel as hulle mooi dogters my drukkies gee. Salig.
* * *
Op ’n tegniese noot. Die twee meisie hierbo is afgeneem in die ateljee.
Die lig is verskaf deur twee Canon Speedlight 430EX-flitse wat deur wit sambrele geskiet is.
Ek het ’n Canon 7D gebruik, wat self die flitse beheer, en vir Funie het ek ’n Canon ST-E2-versender geleen sodat sy met haar Canon 350D ook die flitse met afstandbeheer kan laat afgaan.
Om daardie foto te kry, het ek plat op die grond gesit, die meisies het op ’n lae tafel gestaan en ek het met ’n wyehoeklens daardie bene bekruip.
1/125 f5.6 ISO100 (16 mm)
Canon 7D, Canon 16 – 35 2.8 L
Comments