As padingenieur het my vriend Arnold de Goede vele paaie in die Krugerwildtuin gebou. In al die jare nooit ‘n leeu gesien nie. Die laaste dag van sy wildtuin-skof laai die ouens hom in ‘n helikopter vir ‘n laaste, desperate soektog. Vuilbaard kruip steeds weg.
Arnold is Donderdag in die aftree-oord Serenitas, Bloemfontein, in sy middel 80’s oorlede. Hy het geruime tyd met sy gesondheid gesukkel. ‘n Paar jaar voor sy dood het Arnold uiteindelik toe sy eerste Wildtuinleeu gesien.
Hy en Grace het vir my en Tokkie in Sabiepark kom kuier. Die Sondagoggend gaan ons kerk toe in Skukuza. Net by die hek ingekom, stop die gids in ‘n groen safarivoertuig ons: “Wil julle leeus sien?”
Gelukkig was ons vroeg. “Graag,” koor ons almal. “Draai net regs hier in die Doispanepad. In die eerste lopie lệ ‘n mooi trop.”
Opgewonde draai ons regs in die rigting van die Phabenihek. By die eerste lopie daar lệ die leeus in die wintersonnetjie en bak. Verrassend min ander voertuie – en dit op hierdie besige toevoerroete – maak dit moontlik om hulle deeglik te bekyk.
Arnold se gelukkige dag. My en Tokkie se gelukkige dag dat ons half instrumenteel kon wees by hierdie baken.
Laaste keer met Arnold gesels op 31 Desember op sy verjaardag. Hy was nie die gewone Arnold de Goede nie. Maar hy het ‘n goeie lewe gehad, die waardige, soliede ou vriend. Was, terwyl hy op Lydenburg gestasioneer was, onder meer burgemeester van daardie mooi Laeveldse dorp aan die voet van die Long Tompas.
In Bloemfontein was hy hoof van die provinsiale paaiedepartement in ‘n tyd dat die paaienetwerk in die Vrystaat op groot skaal opgegradeer is. Het lank in Kmdt. Senekalstraat ‘n blok van ons af gewoon.
Het altyd aan sy lippe gehang as hy vertel van sy avontuurlike skof in die wildtuin: hoe hulle vuurtjies gemaak het en dan agter die rook agter ‘n verre bultjie aan paaie belyn het. Wonder of padingenieurs vandag nog so te werk gaan.
Comments