Twee van onse span kelners by Kobus en Cecile Victor van Durbanville (twee ere-Melkbossers)
Eat, drink and be merry .. for tomorrow ye diet. Dié gevleuelde woorde was in my Tukkiedae op die spyskaart van Kollege se huisdinee een jaar. Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai het my in die ornate eetsaal die La Caravelle op dek 5 (Aidadek) daaraan herinner.
Wel, eet en vrolik wees, het ons op die MSC Opera bekwaam gedoen – ook in ander eetplekke soos die L’Approdo op dek 6 (Otellodek), asook die Le Vele en die Il Patio op dek 11 (Toscadek).
Die vyf dae ter see het ons met ons tande ‘n pad deur iets soos 80 ton vars kos geploeg. Twaalf bakkers het elke dag 900 kilogram heerlike brood bygedra: van croissants tot pumpernickel-rogbrood. ‘n Bataljon kelners, hoofsaaklik van Indonesiese afkoms, het net grinnikend bly aandra.
Geen wonder nie die kok het die aand met die voorstelling van die kaptein en sy offisiere loshande die meeste applous ingeoes.
Oor hoeveel bottels wyn verorber is, bestaan statistieke genadiglik nie. Die “wynlyn” was elke aand egter berug lank, ondanks die prys van $12 tot $20 per bottel. Vertragings het voorgekom wat vir ontvlambare gemoedere, soos HvD s’n, nogal uitdagings gestel het.
Synde ‘n Italiaanse skip moes daar natuurlik ‘n Italiaanse aand wees – ‘n vrolike besigheid met onder meer al die kelners in groen, wit en rooi, Italiaanse wyne teen $10 ‘n bottel, Italiaanse roomys, Italiaanse pasta en ‘n sappige Italiaanse koek waarvan ek die gelyke nog nie geproe het nie.
Aandete in die La Caravelle
‘n Feestelike hoogtepunt was toe almal op die maat van ‘n heerlike Italiaanse lied hul groen, wit en rooi servette bo die kop begin swaai. Die vrolikstes onder die vrolikes het treintjie gemaak en deur die eetsaal begin kronkel. Van ons groep was Flip Nel en Koos Myburgh onder die voorbokke – laasgenoemde wel gekamoefleer met sy servet as ‘n soort vermommende kopbedekking, seker omdat hy so hoog op is in onse gemeente! Lourette Ellis was op haar voete, kamera hoog in die lug, om al die verrigtinge vas te lê. Ek soek foto’s, Lourette!
Die Italianers vertel graag die grappie oor Italiaanse kos wat George Miller kwytgeraak het: “The trouble with eating Italian food is that five or six days later you’re hungry again.”
Five or six days, mnr. Miller?
Comments