top of page
Uitmelkbos

EER VIR MADIBA

Met die verstaanbare verkorting van my Mandelabrief (gister in Rapport) – ‘n gat is so groot en nie groter nie – het twee aspekte in die slag gebly.

Met hernoeming van die NKP sal sommer ook gesorg word (hopelik) dat ons geliefde wildtuin mooi opgepas word, het ek betoog.

Verder het ek in aansluiting by John Tungay ook weer as alternatiewe op die tafel gesit die hernoeming van Cathkin Peak (sy voorstel) of sommer die hele Drakensberg (my voorstel) na Madiba.  

‘n Idee waaraan ek ongelukkig te laat gedink het, is om Pretoria liewer Mandela te noem as Tshwane (‘n skadufiguur).

 Onthou, Johannesburg Internasionaal heet reeds O.R. Tambo. Vir ‘n waardige verering van Nelson Mandela sal groter gedink moet word.

 Hier is my volledige brief, soos aan Rapport aangebied:  

 Wat sou ‘n gepaste gedenkteken vir Madiba wees? Amper 11 jaar gelede, in Augustus 2002, het ek  in ‘n brief in “Rapport” hardop gewonder of ‘n groter en unieker eer vir dié internasionale ikoon moontlik is as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-Vryheidspark.

 ‘n Vriend het voorgestel dat ek van daardie knipsel ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word”.  Hy was een van bloedmin wat instemming betuig het. Uit verskeie oorde is my brief as moedswillig, onbekook of selfs verraad bestempel.

 In Maart 2011 het John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoor, met die gedagte gekom dat Cathkin Peak Madiba se naam kry. Ook sy plan is met skrale geesdrif begroet.

 As reuse-beelde van voorste Amerikaanse presidente teen Mount Rushmore uitgekapkanword, kwalifiseer die vader van die nuwe Suid-Afrikaanse nasie seker vir ‘n groter eer as net sy gesig op ons geldnote, en ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar of ‘n klompie strate wat sy naam dra.

 Die tyd om verbeeldingryk en kreatief te dink, durf nie uitgestel word nie. Op die lange duur sal die waardige verewiging van die Mandelanaam immers veel meer gewig dra as al die nagwake, straat-demonstrasies, vragte ruikers, perorasies, briefies, boodskappe en ander verganklikhede van die laaste weke.    

 Mag ek maar weer in hierdie kolom die naam van die Wildtuin, Tungay se voorstel oor Cathkin Peak of, in aansluiting,  selfs die naam van die hele Drakensberg-reeks as aansporing vir ernstige nadenke op die tafel sit?

 Natuurlik sou die prysgawe van die geliefde Krugernaam ‘n reuse-opoffering behels.  Dink egter net watter plusfaktor dit vir samebindingkanwees as ‘n raakvat-idee vir die Groot Verering van Nelson Mandela in Afrikaner-geledere gebore word.  Die Krugerhek kan mos die Krugerhek bly en Coert Steynberg se reuse-beeld, wat wel al in ‘n stadium in ‘n politieke maalstroom was,  kan as erkenning vir die versiendheid van die stigter bly staan waar dit is. Vir altyd.

 Wat kan treffender simbole van wedersydse vergewensgesindheid wees … en boonop waarborg dat die park as trots vir Suid-Afrika, en vreugde vir besoekers,  in ‘n spogtoestand gehou word?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page