Wat het Julius Malema met uitstekende musiek te make? Kom luister môreaand om 18:00 na die splinternuwe, en werklik mooi, komposisie Beautiful Malema deur die Suid-Afrikaanse komponis Markus Wormstorm.
Ek het dit gisteraand in The Dream Factory gehoor.
Die eerste deel van die program het bestaan uit Duo Four IV Two (Frank Mallows en Magda de Vries) wat die volgende gespeel het:
1. Partita Africana, deur Hendrik Hofmeyr. Hofmeyr het hierdie stuk spesiaal vir hulle twee se instrumente verwerk.
2. Divisions, deur Robert Fokkens. Ek het eendag saam met Robert, Magda en Frank ontbyt geëet, toe sê Frank: “I want you to write us a piece.” Nou, twee jaar later, het hulle dit opgevoer.
3. Clare Loveday se Hoar Frost. Frank speel hier sy vibrafoon met twee strykstokke – en dis pragtig.
4. Paul Hammer se Victoria West. Paul het dit vir sy ma geskryf. Greg Andrews, die hoof van HeadStraight, het Paul se ma begrawe. Hy was daar gisteraand.
Hierna het Dane Coetzee (tjello), Justin Carter en Matthew Ferrandi (albei op klarinet) en Markus Wormstorm (op die sintetiseerder) by Duo Four IV Two aangesluit.
5. Unexpected Visitor, deur Markus Wormstorm, was volgende. Dis kort en melodies.
6. Markus Wormstorm se volgende stuk was street/kid/glue/smell. Ek was verruk hierdeur. Diegene wat Peter Gabriel se werk geniet, sal hierdie stuk ook geniet.
7. Toe het hulle afgesluit met Beautiful Malema. Kom luister self. Dis die moeite (en R50 ingang) werd.
Ek het die aand geweldig geniet.
Gisteraand was al die komponiste Suid-Afrikaners. Woensdagaand se program gaan soortgelyk, maar nie presies dieselfde nie, wees.
Woensdagaand om 18:00
By die Beau Soleil Musieksentrum.
Salisburystraat 12
KENILWORTH
7700
Kontaknommer:
021 761 1894
021 761 9005
Die foto hierbo het ek onlangs vir Duo Four IV Two geneem.
Comments